Ettienne Gertse, die enigste seun van ’n Bolandse onderwyserpaar, maak sy buiging in die fliek Atlantis. Dis te danke aansykreatiewe ouers en susters, dat sy fondasie as akteur in die kerk gelê is en hy ’n Sondagskoolkind by die Newton-gemeente in die Calvyn Protestante kerk in Wellington was.
Ettienne is tans te sien as Denver in die reeks Alles Malan.
Hy is die seun van wyle Edward Gertse, wat indruk gemaak het as een van die beste kitaarspelers en kitaartutors in die Boland. Hy was destyds verbonde aan die Frank Pietersen-musieksentrum in Paarl. Hy het bekendheid verwerf as dinamiese musiekonderwyser en was aan die Newton Primêre Skool in Wellington verbonde.
Ettienne se ma, Ivona, was etlike jare ’n skoolhoof in die Swartlandstreek en moes haar loopbaan opsy skuif om tot in 2020 na haar siek man om te sien.
Hoewel Ettienne die enigste haan onder die henne is, is sy susters ook kreatief – Crystal skryf en verf graag en Leilani is ook al aangewys as beste dramastudent. Sy is ook ’n talentvolle violis.
Die Gertse-kinders kan ook verskeie musiekinstrumente bespeel, maar dis Ettienne wat die standaard heelwat hoër gestel het met sy eerste verskyning voor die rolprentkameras en nou besig is om stilletjies naam te maak as belowende akteur. Hy het ook al skouers geskuur met gesoute akteurs op Suid-Afrikaanse TV.
In ’n radio-onderhoud op Radio NFM in Okiep, Namakwaland, op die program Gesinsfokus saam met ds. Rynell Cloete, het die jong akteur meer van homself vertel.
“Drama en opvoerings was nog altyd deel van my grootwordjare. As kind was ek elke jaar in die Kersfeesopvoering in die kerk waar veral my ma ’n leidende rol gespeel het. Op skool was ek ook betrokke by opvoerings. Ek moes net ’n manier vind om my voet in die deur van die bedryf te kry. My deurbraak het egter in Alles Malan gekom.”
Ettienne was nog op skool toe die geleentheid om deel van Alles Malan te wees, aanbreek en dit was blote talent wat hom hierdie geleentheid gebied het. “Ons het oudisies op skool vir verskeie rolle in Alles Malan gedoen en ek het nooit gedink die bod sou op my val nie. Ek was onder die indruk die oudisie was vir ons skool se jaarlikse opvoering,” vertel hy. Hy het ’n paar weke later die oproep gekry wat sy deurbraak was. “Dit was ’n onbeskryflike gevoel toe ek hoor ek het ’n rol in Alles Malan gekry.”
Dit was sy kinderdroom om eendag ’n akteur te word en hy het selfs sy fliekhelde in sy kamer teen die muur opgeplak. Sy ouers was natuurlik baie skepties toe die geleentheid aan Ettienne gebied is omdat drama net een van sy skoolvakke was. Ivona vertel: “As onderwyser het ek eintlik ander planne vir Ettienne gehad om iets te gaan studeer, maar ons ondersteun hom in sy droom. Ons is ’n baie groot familie en ons is trots op hom.”
Ettienne vertel van die geweldige ondersteuning en leiding deur ervare akteurs op die stel, veral as hy sy woorde vergeet. Hy vertel ook van sy rol as Maried in Atlantis waarin hy sy beste vriend aan die dood afstaan.
“My rol in Atlantis was ook deel van my genesingsproses ná my pa se dood toe ek my vriend op stel as deel van die storielyn in Atlantis verloor. Ek was dankbaar om deel van Atlantis te wees en het nooit besef dat die fliek so gewild sou word nie.”
Hy vertel ook van sy sterk geloofslewe soos gevestig deur sy ouers, hul betrokkenheid by die kerk en hoe dit vir hom moeilik op die stel is wanneer hy soms kru taal moet gebruik of die rol van ’n dwelmverslaafde moet vertolk.
Ettienne het ook ’n liefde vir boks.
Hy is op laerskool geboelie en deur boks kon hy veral aan sy frustrasie uiting gee en sy selfvertroue bou.
In sy jong loopbaan kyk hy terug na meer as 15 oudisies en rolle in onder meer Die Sentrum, Atlantis en Alles Malan, en veral sy ma se volgehoue ondersteuning en motivering met elke oudisie. “God het my op die pad geplaas en sal vir my geleenthede op die regte tyd skep.”
Hy vertel van die impak van sy pa se dood en hoe sy deurbrake ná hierdie seer tydperk in sy lewe gekom het. “Vir my was daar nie regtig tyd om te rou nie, want kort ná my pa se dood het die geleenthede gekom. Dit was nogal moeilik om op stel te fokus, want my pa kon nie my sukses met my deel nie.”
Hy erken sy pa het ’n groot rol in sy vorming as akteur, sy musikaliteit en betrokkenheid in die kerk gespeel. Ettienne wil vanjaar meer betrokke raak by die kerk en kitaar by die voorsang speel, soos sy pa dit al die jare gedoen het. “My pa het ’n solid job gedoen en my values kom van sy teachings af.
“En met net sagte woorde gee my ma vir jou ’n drukkie,” sê Ettienne. “Die feit dat sy altyd sê sy is trots op my, gee my ’n warm gevoel in my binneste.”
Ivona het ná Edward se dood weer begin skoolhou en ondersteun haar seun in sy nuwe loopbaan, wat stadig voor hom begin ontvou. Sy susters straal van trots oor hul boetie wat nou op TV pronk.
Ettienne se raad aan voornemende en opkomende akteurs is om altyd ’n back-up te hê en aan hul talent en drome te glo. “Gaan doen navorsing oor die TV-bedryf, want dit is nie so maklik nie.”





