WELLINGTON – Boland Kavaliers en Grens Bulhonde se o.21-spanne was verlede Dinsdag (19 September) op die Boland-rugbystadion in Wellington in ’n o.21-skildkragmeting slaags.
Boland se jong latte het hul eweknie van die Grens 21-14 getroef nadat die spanne rustyd 14-14 gelyk was.
Al twee spanne het in die eerste helfte twee verdoelde drieë aangeteken, wat die rustydtelling op 14 punte elk te staan gebring het.
Ayabonga Tsthashu het twee keer vir die besoekers gedruk en dié drieë is deur Ryan Maree verdoel.
Die tuisspan het swaar geleef in die skrums en in die lynstane het hy ook tweede viool gespeel, maar sy keerwerk was op die ou einde die deurslaggewende faktor wat die wa deur die drif help trek het. Trouens, al twee spanne het eintlik goed verdedig.
Ná rustyd was daar ’n tydstip in die wedstryd toe die besoekers die tuisspan se doellyn meedoënloos met die een aanval ná die ander gepeper het, maar nie kon deurbreek nie.
Benewens hul bottervingers, wat hul pogings verder in die wiele gery het, het Grens se oordeel hom ook in die steek gelaat.
Die besoekers het telkens verkies om te skrum of kantlyn toe geskop wanneer Boland binne trefafstand van die doelpale gestraf is.
Dit was duidelik dat Grens uit die vaste fasette, waarin hy die botoon gevoer het, wou punte aanteken.
Ongelukkig het sy swak hanteerwerk asook die tieragtige verdediging van die tuisspan die besoekers se planne in die wiele gery.
Geleenthede vir moontlike punte is sodoende dus in die drein af.
Nadat spel in die tweede helfte verskeie kere tussen die twee doellyne verwissel is, en nie een van die spanne enige punte by hul onderskeie tellings kon voeg nie, het die tuisspan se buitesenter, Beon Hartnick, in die doodsnikke van die kragmeting uiteindelik ’n gaping in die besoekers se verdediging gevind en die wendrie gaan druk.
Die doelskop was tussen die pale deur en Boland het die wedstryd 21-14 in sy guns beklink.
Boland het die bordjies met dié oorwinning verhang nadat Grens hom die vorige naweek in Oos-Londen met ’n stewige 62-12 afgeslag het.





