Die afsterwe van JT Potgieter (26) het skokgolwe deur die Hoër Landbouskool Boland-gemeenskap gestuur toe hulle die nuus ontvang het dat JT op 7 Januarie aan ’n hartaanval oorlede is.
JT was ’n oud-leerder van die Boland Landbouskool en was ook ’n ywerige rugbyspeler waar hy nie net vir sy skool uitgedraf het nie, maar ook Blou Bulle se o.19- en 0.21-span, asook vir die Boland Kavaliers.
Volgens Adéle Geldenhuys, JT se tannie, het haar susterskind “touchees” saam met sy vriende op ’n sportveld in Kraaifontein gespeel, toe hy die hartaanval gekry het.
JT se pa, Johann is sowat ses jaar gelede ook aan ’n hartaanval oorlede, terwyl sy oupa ook op dieselfde manier oorlede is.
Volgens Geldenhuys het JT buite die Paarl grootgeword en het saam met sy ouers op die perseel van die ou Victor Verster-gevangenes, wat nou bekendstaan as die Drakenstein-gevangenes, gewoon waar sy pa destyds klas gegee het.
Sy laerskoolloopbaan het begin by Laerskool Drakenstein, en hy het in 2015 aan Boland Landbouskool gematrikuleer.
“Ek sal hom altyd onthou as ’n grapmaker, en dat hy altyd bereidwillig was om te help,” het Geldenhuys telefonies aan die Paarl Post gesê.
Sy het verduidelik dat JT in Malta in die Mediterreense Oseaan op seiljagte gewerk het, en het vakansietye Suid-Afrika besoek.
Volgens haar sou hy Maart weer teruggekeer het Malta toe.
Tania Potgieter, JT se ma, het op Facebook geskryf:
“My liewe seun, hoe sê mamma vir jou totsiens, hoe moet mamma jou groet. Dit voel of die lewe gaan stilstaan het. Alles in my is stukkend en seer. Ek is so ontsettend lief vir jou en wag dat jy enige oomblik nou by die deur gaan instap en net sê: yes, yes, ek is terug, wat eet ons vanaand, is die kos al klaar, ek is vrek honger. Jou laaste woorde aan my was: Sien mamma netnou. Daardie netnou het toe nooit gebeur nie. Ek wil glo dat jy geen pyn gehad het nie en dat die oorgang na jou Hemelse Vader sag en rustig was. Jy en pappa is nou weer bymekaar. Mis jou alreeds so vrek baie.”
Die Boland Landbou Ondersteuners Bond Facebook-groep het ook hul medelye uitgespreek en gese “ons opregte simpatie en diepe meegevoel met die heengaan van JT Potgieter (MX’2015). Ons harte gaan in liefde uit na die Potgieter gesin, familie en sy klasmaats in hierdie tyd.”
JT se gedenkdiens het gistermiddag (16 Januarie) plaasgevind.





