Die Boland Rugbyunie (BRU) het verlede week met die bekendstelling van vanjaar se Top-12-kompetisie aangekondig dat vanjaar se wenspan ‘n stewige R100 000 sal ontvang en dat die naaswenner met R70 000 sal wegstap.
Benewens dié stewige wengeld was daar vanjaar ook talle voordele vir alle Boland-klubs, met Sanlam wat weer as die hoofborg voorvat.
Vanjaar het elke klub 10 rugbyballe sowel as paalbeskermers ontvang.
Volgens Bennie van Rooi, die president van die BRU, het vennootskappe met sakelui soos Sanlam dit sedert verlede jaar moontlik gemaak om aan alle klubs se behoeftes te voorsien.
“In 2022 en 2023 het ons net die Top-12-spanne uitgerus en toegerus. Maar die hele Boland word nou uitgerus en toegerus.
“Wie sou kon dink dat verlede jaar se Top-12-wenners R30 000 ontvang het? Vanjaar kry die verloorders R30 000.
“Dit is die soort geleenthede en hoop wat ons hier in die Boland skep,” het Van Rooi met die bekendstelling op Erfenisdag verlede week gesê.
Die wenner van die grootuitdaag ontvang R100 000 en naaswenner R70 000.
In die streekuitdaag ontvang die wenner R70 000 en naaswenner R40 000.
Die wenner van die gemeenskapskild ontvang R50 000 en die naaswenner R30 000.
In die vroueliga ontvang die wenspan R60 000 en die naas- wenner R30 000.
“Dis belangrik dat die topgehalte-kompetisies wat ons aanbied, die regte beloning bied,” sê Pat Maran, die BRU se adjunkpresident.
Benewens Sanlam borg Santam, Vuma, Tekkie Town, Heineken Beverages en Rainbow Chickens ook vanjaar se toernooi.
Die toernooi se nuutste borg is Mama’s Pies.
Volgens Van Rooi skep hierdie vennootskappe nie net geleenthede vir spelers om hul vaardighede te slyp nie, maar versterk dit ook die rugbykultuur in die breër Boland-gemeenskap.
Sanlam sê dit is meer as net ‘n vennootskap.
“Vir Sanlam is dit nie net ‘n vennootskap wat oor borgskap gaan nie – definitief nie. Rugby is meer as ‘n spel. Dit bring mense bymekaar.
“Hier [by die Boland-stadion in Wellington] gebeur die dinge. Hier sien jy hoe rugby die gemeenskap verenig en daar is nie ‘n ander spel in Suid-Afrika wat dit kan doen nie,” sê Victor Hougaard, ‘n verteenwoordiger van Sanlam.
Al die wedstryde skop af op 11 Oktober, met die halfeindstryde op 15 November en die eindstryde op 22 November, wat by Boland-stadion op Wellington gespeel word.
Die verdedigende kampioene, Robertson Town RFC, sal drie wedstryde aanbied, net soos vyf ander spanne wat eerste in hul onderskeie Bolandklubrugby streke se Grootuitdaag-kompetisies geëindig het. Spanne wat tweede geëindig het, sal drie wegwedstryde en twee wedstryde op tuisvld speel.
In die eerste ronde is daar ‘n herhaling van die 2023 Sanlam Boland Top 12 eindstryd, met Robertson Town wat Safcol United ontvang, terwyl Roses United vir Vredenburg verwelkom. Worcester Villagers reis na die Overberg om Botrivier te trotseer.
In ronde twee reis Roses United na Boland Park om die 2024 naasbstes, Worcester Villagers, te ontmoet in wat ‘n vermaaklike kragmeting beloof te wees. Die 2023 kampioene, Safcol United, ontvang die Noordweste-kampioen, Delicious, terwyl Vanrhynsdorp Eagles vir Botrivier in die Matzikama-munisipaliteit verwelkom.
Vanjaar se Sanlam Boland Top 12 spanne:
- Robertson Town RFC (verdedigende kampioene)
- Villagers Worcester RFC (2024 naastes)
- Safcol United RFC (2023 kampioene)
- Botrivier RFC (nuwelinge)
- Saldanha Bay RFC (2019 & 2022 opeenvolgende wenners)
- Roses United RFC (die enigste onoorwonne span van die 2025 seisoen)
- Vanrhynsdorp Eagles RFC (terugkerende Noordweste-span)
- Delicious NW RFC (terug in Sanlam Boland Top 12 na 2023)
- Hillcrest United RFC (naaswenners in vorige Top8 formaat, in 2017)
- Vredenburg RFC (terugkerende Weskus-span)
- Wesbank RFC (keer terug na die Sanlam Boland Top 12 sedert 2023)
- Abbottsdale RFC (terugkerende Swartland-span)





