’n Leerder van die Hoër Jongenskool Paarl het ’n gru-ongeluk oorleef waarin drie skoolseuns tragies gesterf het.
Die ongeluk het Sondag (14 Januarie) omstreeks 16:10 op die R510 naby Lephalale in Limpopo plaasgevind, lui ’n verklaring deur die departement van vervoer in die provinsie.
Die skoolseuns was op pad terug van ’n jeugkamp, die Kalahari Vasbyt-uitdaagkamp in Botswana, toe die ongeluk gebeur het.
Tidimalo Chuene, ’n woordvoerder, sê die bestuurder het beheer oor die voertuig verloor en dit het gerol.
“Drie jong manlike passasiers is dood. Die motorbestuurder en nog twee ander passasiers is beseer. Die oorsaak van die ongeluk is onbekend en word ondersoek.”
Die oorledenes is intussen identifiseer as Jean Conradie (17) van Somerset-Wes, ’n leerder aan die Hoërskool Parel Vallei; Daniël Jordaan (16) van Somerset-Wes en ’n leerder van Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch; en Werner Oosthuizen (16) van Fremantle in Australië.
Die 16-jarige Owen Botha, ’n gr. 11-leerder van Boishaai, was een van die beseerdes.
Die seuns was in die ongeluk toe hulle ná die kamp op pad terug Johannesburg toe was, van waar hulle terug Kaap toe sou vlieg.
Andries Erwee, stigter van die Kalahari Vasbyt-uitdaagkamp in Botswana, wat deur die seuns bygewoon is, het aan Die Burger gesê hulle het in ’n konvooi van vier Toyota Land Cruisers gery toe die ongeluk gebeur het.
Hulle het in Lephalale stilgehou voordat hulle verder gery het.
“Ek het voor gery,” sê Erwee. “Dit het nie vir my gelyk asof daar fout was met enigiemand in Lephalale nie en die kinders was ook in ’n goeie luim.”
In ’n stadium het ’n kind skielik vir Erwee gesê: “Oom, Oom, ’n kar het gerol!”
Erwee het dadelik omgedraai en was die eerste persoon op die toneel.
Twee seuns is op die toneel dood en ’n derde is voor sy aankoms by die hospitaal dood.
Volgens Erwee was die polisie baie vinnig op die toneel en het hulle onder meer die ander kinders beskerm en nie toegelaat dat hulle die ongelukstoneel sien nie. Hy het daarna die ouers die een ná die ander gebel.
Owen is ná die ongeluk na ’n plaaslike hospitaal geneem, maar later ontslaan. Hy en nog kampgangers het Maandagmiddag van Johannesburg na Kaapstad gevlieg, waarna Owen in die Mediclinic Durbanville opgeneem is.
Hy word in die waakeenheid behandel.
“Hy het ’n skedelbasis-fraktuur en ook kleiner frakture aan sy kop en rug, maar is heeltemal buite gevaar.”
Skole oor die Paarl heen het hul skok oor die voorval op sosiale media uitgespreek en hul medelye aan die gesinne van die slagoffers betuig.





