Die 17-jarige Chris Jordaan van die Hoër Jongenskool Paarl (HJS) is steeds onder sterk verdowing in die waakeenheid in ’n hospitaal in Pretoria nadat hy verlede week ’n kopbesering in ’n rugbywedstryd in dieselfde stad opgedoen het.
Volgens Ryno Rust, die sportwetenskaplike van HJS se rugbyspan, het die seuns aan die NMI Toyota Menlyn-Noord- Suid-Rugbytoernooi in Pretoria deelgeneem.
“Ons het teen die Afrikaanse Hoër Seunskool, bekend as Affies, gespeel en Chris het in die vierde minuut van die wedstryd in ’n kontaksituasie op ’n baie lelike manier geval en sy kop teen die grond gestamp. Hy is toe van die veld gedra en het op daardie tydstip nog gekommunikeer. Toe Chris langs die veld lê en met ons fisio praat, het hy ’n seizure begin kry. Dit het gewys dat iets neurologies fout kan wees.”
Chris se pa, ook Chris Jordaan, was op die paviljoen om sy seun en spanmaats te ondersteun toe Chris jr. die besering opgedoen het.
Nooddienswerkers het met Chris na die Mediclinic Muelmed gejaag, waar ’n neurochirurg skanderings en verdere toetse gedoen het. Rust sê die bevinding was dat Chris “ontsettend baie bloeding” op die brein het.
Chris is na die teater gehaas waar ’n noodoperasie gedoen is om die drukking op sy brein te verlig en om van die bloeding ontslae te raak.
Jordaan sê hoewel Chris sy oë oopmaak as hulle in die vertrek is en effens reageer wanneer hulle met hom kommunikeer, lê ’n lang pad na herstel nog voor.
“Hy toon baie goeie tekens van herstel en ons wil hom net graag uit die waakeenheid kry sodat hy na die rehabilitasiesentrum kan gaan.”
Chris het ’n longinfeksie opgedoen as gevolg van die ventilator waaraan hy gekoppel moes word, maar sy infeksietelling is nou onder beheer, het sy pa bevestig.
Jordaan sê hy en sy vrou, Dané, het reeds gereël dat rehabilitasie onmiddellik begin sodra Chris uit die waakeenheid ontslaan word.
“Hy gaan nie nog na ’n gewone hospitaalsaal toe nie – hy sal direk van die waakeenheid af na die sentrum oorgeplaas word. Ons het reeds met die dokter hieroor gepraat en verstaan hoe dit alles werk.
“Niemand weet in hierdie stadium of hy enige probleme in die lang termyn gaan ervaar nie. Obviously het hy baie seergekry en dit was ’n groot operasie. So, niemand weet eintlik nog of hy enige permanente probleme of breinskade gaan hê nie, want hy was nog nie by sy volle positiewe nie. Dit sal ons eers kan sien wanneer hy ontslaan word.”
Jordaan sê sy seun sal nog vir ’n tyd lank in Pretoria wees omdat hy nie nou per vliegtuig kan terugkeer nie.
Jordaan maak dit verder duidelik dat Chris nog nooit regtig wakker geword het nie omdat hy onder sterk verdowing is.
“Hy was nog nie wakker nie. Hy kom net by tye by, want hy is nog heeltyd onder verdowing. Die dokters kan hom nie sonder verdowing los met die ventilator in nie. Hy is die meeste van die tyd aan die slaap, maar wanneer ons met hom praat of enigiets doen, reageer hy. So, hy hoor ons definitief.”
Dit is nie ’n maklike pad wat die familie moet aanpak nie, maar Jordaan sê hulle is ontsettend dankbaar vir die ondersteuning wat hulle tot dusver van almal ontvang het.
“Baie dankie vir die hele Paarl, die Wes-Kaap en selfs die hele Suid-Afrika.”





