Die 17-jarige Chris Jordaan van die Hoër Jongenskool Paarl (HJS) is in ’n koma in die waakeenheid in ’n hospitaal in Pretoria nadat hy Dinsdag ’n kopbesering in ’n rugbywedstryd opgedoen het.
Volgens Ryno Rust, die sportwetenskaplike van HJS se rugbyspan, neem hul seuns aan die NMI Toyota Menlyn-Noord- Suid-Rugbytoernooi in Pretoria deel.
“Ons het teen die Afrikaanse Hoër Seunskool, bekend as Affies, gespeel en Chris het in die vierde minuut van die wedstryd in ’n kontaksituasie op ’n baie lelike manier geval en sy kop teen die grond gestamp. Hy is toe van die veld gedra en op daardie tydstip nog kommunikeer. Toe Chris langs die veld lê en met ons fisio praat, het hy ’n seizure begin kry. Dit het gewys dat iets neurologies fout kan wees.”
Nooddienswerkers het met Chris na die Mediclinic Muelmed gejaag, waar ’n neurochirurg skanderings en verdere toetse gedoen het. Rust sê die bevinding is dat Chris “ontsettend baie bloeding” op die brein het.
Chris is na die teater gehaas waar ’n noodoperasie gedoen is om die drukking op sy brein te verlig en van die bloeding ontslae te raak.
“Die dokter het ’n deel van sy skedel verwyder om met die ontlading van die drukking te help en hy is nou in ’n geïnduseerde koma vir die volgende 48 uur,” het Rust Woensdagmiddag (5 April) aan Paarl Post verduidelik.
Volgens Rust wag die dokters nou net dat Chris wakkerword sodat hulle kan bepaal of hy enige breinskade opgedoen het.





