Die Drakenstein-vallei het verlede Donderdag gejuig weens die nuus dat Ulrich le Roux van die Hoër Jongenskool Paarl as die topmatrikulant vir 2021 in Suid-Afrika – en die Wes-Kaap – aangewys is.
Dié skaam jongman sê hy het glad nie verwag hy sou só ’n groot prestasie behaal nie.
“Ek moet sê ek was baie verras toe ek hoor my naam is op die lys as een van die toppresteerders in die land. Ek is ook baie bly dat al die harde werk wat ek deurgaans ingesit het uiteindelik so lonend was.”
Ulrich skryf sy sukses toe aan sy ma, Karen, ’n wiskunde-onderwyser, wat ook ’n groot rol in sy ander akademiese prestasies gespeel het.
Sy het voorheen ook by Boishaai skoolgehou.
Ulrich het ook sy dank aan sy onderwysers en die skool uitgespreek en sê “sonder hulle sou niks van dit enigsins moontlik gewees het nie”.
“Nog ’n rolmodel in my lewe is gewis my broer, Henri. Hy het my altyd net gewys hoe om die grense uit te daag en te mik na iets wat half onmoontlik lyk. Maar, as jy hard genoeg probeer en aanhou en nooit ophou nie, kry jy dalk uiteindelik net wat jy wil hê.”
Die Covid-19-pandemie het talle onvoorsiene struikelblokke vir leerders veroorsaak. Wat Ulrich gehelp het, is dat hy konstant was met sy leerwerk en die prestasies wat hy wou bereik.
“Dit is gewis nie maklik om op ’n hoër vlak akademies te presteer nie – veral van laerskool af. Wat gewis help, is om baie bestendig te bly en die gewoonte aan te leer om baie van ’n baie jong ouderdom af goed te doen. Ek sal ook sê dit help definitief om ’n baie goeie rooster vir jou studietye te hê, maar ook vir tye tussenin om te ontspan. As jy by ’n streng rooster hou, help dit gewis om in jou eksamens te presteer.”
Ulrich glo dit is belangrik om ’n balans in ’n mens se lewe te hê. Hy sê hy dink nie hy sou so goed kon leer as hy nie aan sport deelgeneem het of iets anders wat aktief is, gedoen het nie.
Hy het van gr.1 tot gr.12 hokkie gespeel. Volgens hom het dit hom gehelp om te ontspan nadat hy lank hard studeer het.
Weg van die skoolboeke en die sportveld oefen en lees Ulrich nogal baie in sy vrye tyd.
“Ek oefen nogal baie, soos reg deur die Desember-vakansie – ek het baie gaan draf. Ek lees ook gereeld ’n boek, want ek het die afgelope jaar nie juis tyd daarvoor gehad nie.”
Conrad Poole, uitvoerende burgemeester van die Drakenstein-munisipaliteit, het Vrydag in ’n kort toespraak gesê: “Ulrich, oor dit wat jy bereik het – weet vandag jy het baie mense en kinders se harte gesteel, en mag hierdie skool van sterkte tot sterkte gaan. En aan die klas van 2022 – laat dié prestasie vir jou ’n uitdaging wees om selfs nog beter te vaar en seker te maak dat ons weer met die beste in die land wegstap.”
Derek Swart, die hoof, is ook baie in sy skik met Ulrich se prestasie. Hy vertel met die betrokke matriekklas het hulle ’n slagspreuk aangeneem – “so normaal as moontlik, maar so vinnig as moontlik”.
“Ons het natuurlik baie kritiek ontvang omdat ons die seuns so gou as moontlik teruggebring het [skool toe] en hulle reguit begin klasgee het. Ek is net bly hoe alles geëindig het en dat ons hierdie soort resultate het,” sê Swart.
Terwyl die groot nuus nog by Ulrich insink, maak hy gereed om hom by die Universiteit Stellenbosch aan te sluit waar hy aktuariële wetenskappe gaan studeer. Die webtuiste van dié universiteit beskryf die studieveld as volg: “Aktuarisse is professionele analiste wat die finansiële gevolge van risiko’s bestuur.”
Ulrich het ook ’n boodskap vir vanjaar se matrikulante: “Vir die graad 12-leerders van 2022 gaan Covid steeds hul studies en alles massief beïnvloed.
“Ek wil egter graag sê julle moet al die laaste oomblikke saam met jul vriende en by die skool geniet, en terselfdertyd nog hard aan jul akademie werk sodat julle gelukkig kan wees en sonder spyt kan terugkyk oor wat julle bereik het.”. Ulrich le Roux from Paarl was announced the top matriculant of South Africa and the Western Cape for 2021. He was a learner at Paarl Boys’ High.





