Die Hoër Jongenskool Paarl is steeds stomgeslaan ná hul nederlaag Saterdag teen Wynberg Boys’ High – die eerste keer in 36 jaar wat die manne van die Kaap die Boishaaiers kon klop.
Wynberg se losskakel, Yaqeen Ahmed, het koelkop gebly om ’n strafdoel ná die sirene oor te klits om sy span ’n geskiedkundige sege van 30-27 te help beklink.
Boishaai se linkervleuel, Ashwin Swarts, het vyf minute voor die einde gaan druk met die losskakel, Viaan Mentoor, se doelskop wat die telbord beter laat lyk het vir die Boishaaiers.
Wynberg se vorige sege oor die span van die Paarl was in 1988. Toevallig was die wenspan se kaptein, Aden da Costa, se pa, Joe, destyds ’n lid van die Wynberg-span wat Boishaai 36 jaar gelede geklop het.
Paarl Gimnasium het ook ’n naelbytstryd beleef toe hy net-net in die Jakarandastad die Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria met 20-19 geklop het.
Dit was ’n strawwe tweestryd van twee helftes, waar Gimmies in die eerste helfte die oorhand gehad het.
Ná rustyd het Affies die meeste speelwerk gedoen.
’n Onderskepdrie deur Gim se regtervleuel, Immanuel Prinsloo, het die verskil gemaak. Freek de Kock, die heelagter, se akkurate skopskoen verdien ook lof.
Gimmies se twee flanke, Jan Koegelenberg en Wihan Kotze, het skitterende werk by die afbreekpunte verrig.
Gimnasium bly boaan die Skolerugby-punteleer vir 2024, met Boishaai in die vierde plek en Boland Landbou in die 12de plek.. Nog skolerugby-uitslae:
Boland Landbou 52-10 Bishops; Milnerton 17-14 Hugenote (Wellington); HTS Drostdy 22-5 Framesby; Labori 21-7 Dirkie Uys.





