Hoër Landbouskool se flank Alru Gous is hier te sien met die bal Saterdag teen Boishaai.Foto: Susan Lamont/My Sport Photos


Aan die vooraand van Paarl Interskole 2023 het die Hoër Jongenskool ’n skok-nederlaag teen Boland Landbouskool gehad, terwyl die Hoërskool Gimnasium teleurgesteld kan wees dat hulle gelykop moes eindig teen Hoërskool Outeniqua in George.

Boland Landbou kon vir die eerste keer sedert 2009 in die Brugstraat-stadion in die Paarl daarin slaag om Hoër Jongenskool Paarl te klop. Hulle het met 26-22 geseëvier.

Die laaste keer toe Boland Landbou met die Boishaaiers geploeg het, was die verloorspan se kaptein Frans Malherbe.

Die Boishaaiers moes wel sonder ’n paar staatmakers klaarkom. Hul flank Divan Fuller (SA Skole) en slot Van Heerden Pretorius was nie beskikbaar nie.

Boland Landbou het voorlangs die oorhand gehad met veral sy flank Alru Gous aan die spits. Agterlangs het die losskakel, Retagen van Rooi, ’n blink vertoning opgedis.

Op George kon niks die Hoërskool Outeniqua en Paarl Gimnasium in ’n spannende Sportsmans Warehouse Premier-ontmoeting, wat Saterdag (22 Julie) 10-10 geëindig het, skei nie.

’n Kombinasie van hardnekkige verdediging en toegewydheid het daartoe gelei dat Outeniqua Paarl Gimnasium in ’n uitmergelende botsing voor hul tuisondersteuners weggehou het. Die Kwaggas het gretig na hierdie ontmoeting teen hul Bolandse mededingers in hul eeufeesjaar uitgesien. Outeniqua het in die eerste helfte die oorhand gehad, terwyl Paarl Gim in die tweede helfte sterk teruggeveg het.

Paarl Gimnasium se regtervleuel, Freek de Kock, is aangewys as die Speler van die Wedstryd nadat sy puik solo-drie die wedstryd gelykop gemaak het. Die wedstryd was ’n uitstekende illustrasie van hoe desperate verdedi­ging van die Kwaggas en vasberade en robuuste aanvallende spel van Paarl Gim mekaar op die dag gekanselleer het.

Hierdie naweek speel Hoërskool Gimnasium hul laaste rugbywedstryd voor Paarl Interskole teen Rondebosch, en Hoër Jongenskool pak Bishops aan. Albei wedstryde word in die Paarl gespeel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article