Lede van AfriForum in die Paarl word die afgelope naweek wysgemaak in tegnieke om hulself en ander te beskerm.


Inwoners van die Paarl hoef geensins lam te lê as misdadigers toeslaan nie, want danksy AfriForum se Paarl-tak is 19 burgers nou toegerus om hulself te verdedig indien dit genoodsaak word.

Dié tak het die afgelope naweek in samewerking met Rukata Combat and Self Defence Systems ’n suksesvolle selfverdediging-werksessie gehou waartydens deelnemers kontakvegkuns geleer is.

Die sessie is saamgestel met die oog op veiligheidskwessies wat inwoners van die Wes-Kaap daagliks teëkom en is gratis aangebied. Die deelnemers is onder meer geleer hoe om aanvalle af te weer wat met wapens soos messe of pangas uitgevoer word.

Die betrokkenes was dit eens dat die tegnieke prakties en vir beide mans en vroue implementeerbaar is.

Volgens Ben Venter, lid van die Paarl-tak, kan dié selfverdediging-werksessie moontlik kwartaalliks aangebied en selfs verder uitgebrei word om naburige takke en sy lede te betrek en te bemagtig om hulself met selfvertroue te verdedig.

Met dié dat individue toenemend die teiken van ernstige geweldsmisdade word, is dit belangrik dat almal hulself met die nodige kennis toerus oor hoe om in dié soort situasies op te tree. Dit is een van die redes waarom AfriForum verskeie soorte opleiding, wat op gemeenskapsveiligheid gemik is, fasiliteer.

“Ons is trots daarop dat takke die inisiatief neem om hulself en hul gemeenskap te bemagtig en toe te rus met die nodige vaardighede om hulself, en moontlik ander te kan beskerm,” sê Jacques Benade, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland.

Lede van die gemeenskap word aangemoedig om by AfriForum se Paarl-tak en sy buurtwag aan te sluit.

. Besoek www.wordlid.co.za.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article