’n Sterk boodskap is vandeesweek uitgestuur aan vrugtediewe en onwettige vrugteverkopers toe wetstoepassers van Drakenstein-munisipaliteit ’n vrugtedief in die Paarl vir die onwettige verkoop van die gesteelde vrugte langs die pad beboet het.

Volgens Drakenstein-plaaswag (DFW) het ’n boer die dief op sy plaas gewaar wat besig was om vrugte te steel. Die dief is ’n tydjie daarna vasgetrek deur lede van DFW- en Fidelity ADT-beamptes.

Die plaaslike polisie is glo ook ingelig, maar het nooit opgedaag nie. Lede van DFW het toe besluit om die wetstoepassers in te lig deur die Drakenstein Smart Safety Network (DSSN)-beheerkamer van die munisipaliteit.

“ ’n Dramatiese verandering in die benadering teenoor onwettige vrugteverkopers, wat in die meeste gevalle gesteelde voorraad langs die pad verkoop, het nou vrugte afgewerp. Die wetstoepassers het binne minute opgedaag. Daar is [bevind] ’n oortreding van verordeninge is deur die beskuldigde gepleeg, wat gelei het tot ’n stewige boete en ’n uitnodiging om in die nuut geopende munisipale hof te verskyn. Die pad vorentoe met onwettige vrugteverkopers en vrugtediewe vir die boeregemeenskap, blyk deur wetstoepassing te wees,” sê bevelvoerder van DFW, Daan van Leeuwen Boomkamp.

Hierdie vrugtediewe word gereeld gesien op die Sontraalpad-brug, wat oor die N1 geleë is, waar hulle die gesteelde vrugte probeer verkoop aan motoriste.

In November 2021 is twee boere, wat in die einste gebied boer, aangekla van aanranding, die rig van ’n vuurwapen, poging tot moord en moord.

Dit volg nadat hulle beweerde onwettige vrugteverkopers op die Sonstraalpad-brug gekonfronteer het, waartydens die 40-jarige Chatwell Rogers noodlottig met ’n haelgeweer getref is. Rogers was glo ook ’n vrugteverkoper.

Die twee boere, Jan (JT) Basson en John Woest, het hul aanvanklike hofverskyning eers in die Paarl-landdroshof gemaak, maar die hofverrigtinge is intussen na die hooggeregshof in Kaapstad oorgeplaas.

Die amptelike verhoor van Basson en Woest sal van 30 Oktober tot 30 November in die hof voortgesit word.

Gerald Esau, Drakenstein se uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste, het bevestig ’n plaaslike vrugteboer het op 23 Julie die wetstoepassingsafdeling gekontak nadat ’n vermeende vrugtedief opgemerk is.

“Dié vermeende vrugtedief het enkele oomblikke later glo probeer om teen die pad van die vrugte ontslae te raak, waar sy deur die Drakenstein Farm Watch (DFW) en Fidelity ADT se gewapende beamptes aangekeer is. Lede van die DFW het toe die munisipaliteit se Drakenstein Smart Safety Network (DSSN)-beheerkamer deur die sentrale veiligheidsnetwerk gekontak en versoek dat wetstoepassingsbeamptes hulle bystaan. Ons wetstoepassers was binne enkele minute op die toneel en het ’n boete van R800 uitgereik.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article