Die hele Blaauw-gesin van Wellington – al vier – gaan vanjaar se Shoprite en Checkers- Kampioenskap Boereworskompetisie behoorlik oorheers wanneer al vier lede van dié gesin gaan deelneem.
Inskrywings vir die 30ste boereworskompetisie sedert 1992 is oop tot 17 Junie, waar ma en pa Blaauw asook die broers Delano Jasper en Xavier Blaauw die publiek in hul boerewors-vaardighede touwys sal maak.
Ma Yvonne en haar oudste seun, Delano, het die kompetisie onderskeidelik in 2018 en 2020 gewen, met Xavier wat in 2021 onder die top-10 geëindig het.
“Die boereworsgogga het gebyt nadat ek die kompetisie in 2018 gewen het,” verduidelik Yvonne.
Van toe af wou almal in die gesin ’n wenresep skep en inskryf.
“Dit raak baie mededingend in die huis om te sien wie se resep gaan wen,” sê Delano, ’n derdejaarstudent aan die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT). “Ek het vanjaar met verskillende geure eksperimenteer, en ek hoop dit sal my tot bo neem.”
Xavier, ’n gr. 9-leerder aan die Hoërskool Hugenote, het vanjaar sy visier op die eerste plek ingestel. “Ek gebruik die ervaring van verlede jaar se kompetisie om my nuwe resep te verfyn. Ek hoop om ten minste die topdrie te haal as ek nie die eerste plek inneem nie.”
Vanjaar is ook die eerste keer dat Roland, Yvonne se man, hom vir die boereworskompetisie inskryf. “Ek het ekstra hard gewerk om my boereworsresep te verbeter en my vanjaar na die topposisie te neem. Dit is wonderlik om die kampioen te wees, maar ek neem ook deel vir ‘gesinspogregte’,” verduidelik Roland.
Besoek die kompetisiewebblad by www.championshipboerewors.co.za. vir nog inligting of om in te skryf.





