Die twee boere wat tereg staan weens die moord op Chatwell Rogers, Jan (JT) Basson (65) en John Woest (68), sal weer op 30 Maart in die Paarl-landdroshof verskyn.
Die saak is vanjaar vir die eerste keer op 26 Januarie in die hof hervat.
Volgens Die Burger is in die hof gesê die ondersoek na die voorval, wat op 30 November verlede jaar plaasgevind het, nog nie voltooi is nie.
Die staat het melding gemaak dat die ballistiese verslae nog uitstaande is en dat verklarings nog van getuies geneem moet word.
Die staat se motivering lui verder dat die beskuldigdes die moord op Rogers beplan het terwyl hul regsverteenwoordiger, die bekende William Booth, volhou dat Basson en Woest uit selfverdediging opgetree het.
Booth het die hof in die onlangse sitting gevra om druk op die staat toe te pas.
Hy sê hy het reeds op 20 Desember ’n formele skrywe aan die senior staatsaanklaer gerig en gevra vir toestemming om ’n onafhanklike patoloog aan te stel, wat ’n lykskouing vir die verdediging kan doen.
Booth sê hulle het vrae oor die oorsaak van Rogers se dood en sal graag hul eie lykskouing wil hou.
Nathan Johnson, die beheeraanklaer van die Paarl-landdroshof, het aan Paarl Post bevestig dat Booth se aansoek teen Dinsdag nog nie goedgekeur is nie.



