Dis nie aldag dat ’n mens die kans kry om die plaasopset van ’n Boer van die Jaar te besoek nie.
Dié geleentheid was onlangs vir joernaliste en ander mense in die landboubedryf beskore toe hulle plase van die Le Roux Groep buite die Paarl en Wellington besoek het.
Eienaar Jan le Roux is verlede jaar aangewys as die 2021 Suid-Afrikaanse Boer van die Jaar, ’n jaarlikse toekenning wat deur die SA Landbouskrywers-vereniging bestaande uit landbouskrywers en mediamense aangebied word.
Hy was ook in 2018 die ontvanger van die O.S.H. Reinecke-trofee wat jaarliks deur die Suid-Afrikaanse Sagtevrugtebedryf aan bedryfsleiers oorhandig word.
Die oud-Gimmie het rekeningkunde aan die Universiteit Stellenbosch gestudeer, en het jare lank ’n leidende rol by die Pepkor Groep gespeel, waar hy in 2001 as globale uitvoerende hoof uitgetree het.
Die besoekers, wat van reg oor die land gekom het om die geleentheid mee te maak, het ook vorige wenners van die Boer van die Jaar-toekenning ingesluit.
Hulle het gou geleer dat Le Roux ’n man is wat onderhoudend kan gesels en vol lewenslesse en wyshede is.
Die uitdrukking “daar was al ’n man op die maan” word gereeld gebruik om iemand te motiveer wat dink dat ’n taak onmoontlik is, omdat die woorde “kan nie” bloot nie in sy woordeskat bestaan nie.
“Ek is ’n werkolis en ’n perfeksionis en soms meng die twee nie so lekker nie,” het hy ook al op ’n keer gesê.
Dié aanhaling verskyn in ’n boekie wat besoekers as deel van hul tweedag-besoek aan die Le Roux Groep ontvang het.
Hy het onder meer vir die besoekers vertel oor die vreugdes en frustrasies van die landboubedryf, en hoe daar voortdurend planne gemaak word om probleme in byvoorbeeld die verskeping van uitvoervrugte te hanteer.
Die boerderybedrywighede van die Le Roux Groep beslaan 654 hektaar tafeldruiwe asook 192 hektaar pruime en nektariens. In seisoentyd word daar 24 uur per dag vrugte gepak.
Die groep neem in ’n tipiese jaar 6 200 mense in diens, waarvan 800 permanent is.
Die besoekers het onder begeleiding van die Le Roux-groep se sterk bestuurspan onder meer die geleentheid gekry om Sandrivier-landgoed naby Wellington te besoek, waar uitvoergehalte pruime en nektariens verbou en verpak word.
Dié voormalige graanplaas is sedert die 1990’s omskep in ’n vrugteplaas van formaat. Dis sedert 2003 die tuiste van die Fruit2U-pakstoor en sy verkoelingsfasiliteit.
Joubertsdal en Mooikelder is ook besoek. Saam produseer dié eenheid buite die Paarl sowat 450 000 4,5 kg- kartonne tafeldruiwe vir die uitvoermark per jaar.
Benewens behuising vir landbouwerkers is daar ook ’n geakkrediteerde crèche en naskool- sorgsentrum op die plaas, asook ’n permanente kliniek, bankteller en winkel.
Gedurende die oes- en paktyd werk daar sowat 1 000 werknemers op Mooikelder en Joubertsdal.
Die toer het nie ’n besoek aan die Broodkraal-landgoed by Piketberg (ook ’n voormalige graanplaas) ingesluit nie. Hierdie landgoed is die grootste enkele tafeldruifeenheid in die Suidelike Halfrond waarvan alle produksie onder skadunet is.
Die Le Roux Groep se uitvoermaatskappy, Le Roux Fruit Exporters, voer jaarliks meer as drie miljoen kartonne druiwe, nektariens en pruime uit. Markte sluit in Europa, die Verenigde Koninkryk, VSA sowel as die Verre en Midde-Ooste.
Deur middel van die groep se werkerstrust besit permanente landbouwerkers ’n 32%-aandeel in Broodkraal-landgoed.
Le Roux self is ’n Paarliet in murg en been, wat in 1950 gebore is en daarna grootgeword het op die Mooikelder-landgoed buite die dorp, wat al meer as ’n eeu lank in sy familie se besit is, en op sy dag ook die tuiste van Cecil John Rhodes was.
Die herehuis en wynkelder op die plaas is reeds in 1835 gebou en dien vandag as ’n luukse spa, naamlik “Mooikelder Aesthetics and Wellness”.
Vir Le Roux is die begrip “leierskap” gegrond op eerbaarheid en menslike begrip, oftewel compassion. Hy beskou beleid en beginsels as die vertrekpunt en die fondamente waarop ’n besigheid gebou moet word. As dit sleg gaan of daar is probleme, is dit die beleid en beginsels wat as vangnet dien.





