Soek jy dalk liefde op die platteland? Wel, inskrywings vir die 15de reeks van die immergewilde Boer Soek ’n vrou-televisiereeks open binnekort.
Die pragtige Paarliet, model, TV-aanbieder en aktrise Marciel Hopkins (29) sal weer ’n keer aan die stuur van Boer soek ’n vrou wees.
Marciel, ’n oud-Gimmie, het die leisels in 2020 by die sangeres Leah oorgeneem en sien daarna uit om op nog avonture saam met die produksiespan van Boer soek ’n vrou te gaan.
Sy gaan eers ’n kort ruskansie geniet omdat sy hierdie naweek vir ewig trou sweer aan Handré Lourens (31), haar ses jaar lange liefde met wie sy Saterdag trou.
Die laaste episode van die huidige reeks word vandag (Donderdag 7 April) om 20:00 op kykNET uitgesaai. In dié reünie-episode kom al tien boere bymekaar en gesels hulle met Marciel oor hul deelname. Sy vind ook uit wat in die boere se liefdeslewe aangaan en watter paartjies se verhoudings blom.
Boere wat aan die 15de reeks wil deelneem, kan van Vrydag (8 April) af inskryf. Besoek www.kyknet.tv vir nog inligting.



