Eduanne Niemand (links) lê daaglikse besoek af by Eddie Buxman (86) om te sien hoe die pad na herstel vorder. Foto’s: Verskaf


“Kyk, ek vang al vir jare slange op my plaas,” vertel Eddie Buxman (68) wat op die R44 net buite Wellington boer.

“Maar dié keer het ek myself bietjie misgis… die Kobra het sy kop spoedig gedraai en my op my vinger gekap!”

Só onthou Buxman die lewensgevaarlike insident wat Maandagaand in sy seun se huis se hoofslaapkamer op die Burgersdrift-familieplaas plaasgevind het.

“Ek is nie bang vir slange nie,” meen hy en verduidelik dat hy veel eerder ’n slang sal probeer vang, voor hy een sal doodmaak.

Buxman vertel dat die hoogs giftige Kaapse Kobra eers sy aanstaande skoondogter, Luzann, skrik op die lyf gejaag het toe sy om 20:45 ’n kragprop uit die muur wou trek en die slang skielik by haar verby seil.

“Sy en die honde het toe só histeries tekere gegaan dat ek vinnig gaan help het. Ek gryp toe dadelik die snoekerstok om die slang in ’n hoek vas te druk, en sodoende by die stert te probeer optel. Maar die slang het by die slaapkamer uitgeseil en is na buite deur ’n doggy trap-door.”

Buxman is agterna en het die slang op die voorstoep met ’n snoekerstok in die hand, vasgetrap.

“Toe hy my op die hand pik het ek hom in die tuin geslinger.”

Buxman se seun het dadelik Eduanne Niemand van Boland Snake Removals 24/7 gebel en het hom van die noodgeval ingelig.

“Die eerste ding wat ek gedoen het is om die gif uit my vinger te melk en suig terwyl ek ’n das om my hand afgebind het. Dit het gehelp om te keer dat die gif na die res van my liggaam versprei. Dit het my bas gered!”

Niemand het gesê dat hulle na Mediclinic Paarl toe moet gaan en hy sal hulle daar inwag. Hy het toe Buxman se besonderhede voorlopig by die hospitaal geregistreer sodat behandeling vinniger kon plaasvind.

“My seun het my met ’n Epipen op die plaas ingespuit. By die hospitaal het die dokters vir my twee dosisse teengif ingespuit om die effek van die dodelike gif af te weer.”

Buxman onthou dat die sig in sy linkeroog begin verswak het wat beteken dat die gif sy senuweestelsel begin aantas.

Vier dae later is Buxman steeds in die hospitaal en sê hy voel heel goed, “behalwe vir my hand wat bietjie afchop van die pyn.

“Kyk – ek het in my hele lewe nog nooit sulke intensiewe pyn beleef soos met die slang se pik nie.”

Hy was in die intensiewe-waakeenheid versorg tot hy Woensdagaand na die algemene sorgeenheid oorgeplaas is.

Die slangbyt het stelselmatig ’n bloedblaas op Buxman se vinger gevorm. Hy word Donderdag geopereer om hopelik sy vinger te red.

“Die dokters gaan vandag (Donderdag 19 Januarie) opereer en kyk of hulle my vinger kan red. Dit het nou al ’n groot pers bloedblaas ontwikkel. Hulle wil die vel wegsny om te kan sien hoe die weefsel onder die blaas lyk.”

Verder voel dit vir Buxman of hy met vakansie is.

“Ek het die heerlikste kos wat voor my neergesit word en die personeel hier is baie gaaf en vriendelik. Daar word mooi na my gekyk.”

Niemand bied belangrike wenke indien ’n slinkse slang jou op jou erf verras:

1. Die eerste stap is om 4m agteruit te tree.

2. Kyk hoe lyk die slang (lengte, dikte en kleur) sodat die slangvanger weet waarmee hy te doen het.

3. Kyk waarheen die slang beweeg anders sien jy daai slang vanaand weer in jou kooi.

4. Kry kinders en hondekinders weg van die area.

5. Kalmeer, die slang is banger vir jou as jy vir hom.

6. Bel ’n gekwalifiseerde slangvanger naby jou, soos ek (aldus Niemand).

7. Terwyl jy wag vir die slangvanger, hou jou oë teen ’n veilige afstand op die slang.

8. Maak seker jou honde is toegemaak in ‘n ander vertrek wanneer die slangvanger arriveer. Niemand sê hy is al twee keer gebyt toe hy moes gaan slange vang.

Wat gemaak as jou hond gebyt word deur ’n Kaapse kobra?

1. Kyk vir byt wonde wanneer dit veilig is.

2. Ry veearts toe en moenie dat die hond aan die slaap raak nie.

3. Sy tong gaan blou word as gevolg van asemhalingsprobleme, so druk sy borskas sodat hy kan asem kry.

“As ’n mens gebyt word deur ’n Kaapse Kobra, neem die pasiënt na MediClinic Paarl of Paarl-hospitaal. Beide hospitale het tans teengif,” sê Niemand.

“Bel my op pad hospitaal toe (082 380 1987) sodat ek kan reël terwyl pasiënt op pad hospitaal toe is. As ’n byt op jou hand is, bind jou bo-arm af en as die byt op die voet is, bind hoog op bobeen af. Dié tipe slangbyt is noodlottig. Dit is dus ’n Code Red, met ander woorde, jy word dadelik gehelp en betaal eers later indien jy oorleef. Laat iemand die volgende dag maar vir jou goedjies inpak want jy gaan vir minstens sewe dae in die waakeenheid lê, dit belowe ek jou. Ken jou allergieë – indien jy allergies is vir heuningbye, sê vir die dokter want dit is lewensnoodsaakliker.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article