Die dramagroep van Wellington Vaardigheidskool. Van links is Logan Phetini, Stanton Makriga, Onwaba Joubert, Christo Kirchner (skoolberader), Eunika Verneel, Janika Retief, Ethan Mouries en Gabi Rose (groepassistent).

Credit: SYSTEM

Kinders kom elke dag boeliegedrag teë – hetsy by die skool of by die huis.

Dit is juis om hierdie rede dat ’n groep leerders van Wellington Vaardigheidskool ’n boeliegedrag-produksie by verskeie skole in dié dorp uitvoer.

Volgens Christo Kirchner, die skoolberader van Wellington Vaardigheidskool, het hy die boeliegedragproduksie verlede jaar self geskryf nadat ’n paar leerders verskeie gevalle by sy kantoor kom aanmeld het. Hy het gevoel om ’n ander benadering tot die uitdaging oor boeliegedrag te probeer, en só is die produksie gebore.

“Ons het die boeliedrama by die skool opgevoer en die kinders het daaroor begin praat. Die grootmense het begin praat en dit het by die ore van ander skole uitgekom. Ek het toe so ’n bietjie die voelers uitgesteek en die ander skole het toe laat weet ons kan die boeliedrama by hul skole gaan opvoer.

“Ons het voor die Maart-vakansie by ’n paar skole opgetree, en nou in die eerste week nadat die skole weer begin het, het ons dit elke dag by twee skole opgevoer. Ons het laerskole en hoërskole besoek.”

Kirchner verduidelik die storielyn gaan oor ’n seun wat baie gelukkig is by die skool, maar dan gebeur iets by die skool wat hom aan boeliegedrag blootstel. Die hele tema van die storie is “ons sê nee vir boelie”. Hy voeg by dat die akteurs wat deel van die produksie is, self leerders by Wellington Vaardigheidskool is.

“Ons bring die vriende in wat hom wil bystaan en die kind wat die boelie is. Elke karakter gee ’n agtergrond van waar hy vandaan kom. Ons wil hê mense moet sien daar is ’n agtergrond rondom elke kind sonder dat die kinders so baie inligting gee. Ons bring in wat by die skool en by die huis gebeur wanneer die kind gaan kla, maar nie die nodige hulp kry nie. Uiteindelik voel daai kind hy is heeltemal alleen. Dan verloop die storie so dat die kinders in die gehoor kan sien wat gebeur wanneer jy geboelie word, wat gebeur as jy die boelie is en wat die uiteinde daarvan kan wees.”

Ethan Mouries, een van die leerders wat lid van die produksie is, sê dit is belangrik om die boeliedrama aan te bied, want dit kan nie net kinders raak nie, maar ook ouers. Hy moedig diegene aan wat geboelie is of nog geboelie word om vrede te maak met hul boelie en hulp te soek.

“Onthou – jy is nie alleen nie. Gaan praat met ’n onderwyser of enigiemand wat hulp kan verskaf.”

Kirchner sê hoewel boeliegedrag nie regtig ’n probleem by hul skool is nie, sien hy tog dat kinders meer openlik oor hul gevoelens praat.

“Die groot verskil wat ek opmerk, is dat die kinders nou meer openlik praat en dat die boeliegedrag nie meer ge-tolerate word nie. Hulle bly nie meer stil nie. Wat nou gebeur, is wanneer ’n geval van boeliegedrag opduik, kom die kinders dadelik kantoor toe en hulle kom praat. Soos ek sê – boelie is nie ’n groot probleem by ons nie, maar dit is oor die algemeen minder.

“Al die skole wat ons besoek het, praat oor die probleem wat hulle met boeliegedrag het. Ons kan nou nie sê nadat ons weg is wat die impak ná die opvoering by die onderskeie skole was nie, maar ons kon wel sien dat hulle baie dankbaar was vir die manier waarop die kinders die boodskap oorgedra het.”

Die groep akteurs is verlede week genooi om die Suidoosterfees by te woon. Hoewel hulle nie by die fees opgetree het nie, was hulle in die gehoor. Die leerders het toevallig ’n produksie gesien wat ook oor boelie handel en deur ’n skool van Beaufort-Wes opgevoer is.. Childline South Africa is ’n organisasie sonder winsbejag wat hom daarvoor beywer om kinders teen alle vorms van geweld te beskerm. Indien jy geboelie of mishandel word, kontak die hulplyn by 116 of besoek childlinesa.org.za.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article