Bergrivier tydens die vloed. Foto dien slegs as illustrasie.Foto: Quinn Kommies/WAG-Facebook


Hiermee bevestig die Paarl Post dat ’n private damwal op ’n Wellingtonse plaas in die Bovlei-omgewing vanoggend (Donderdag 15 Junie) onder hoë waterdruk gebreek het.

Inwoners in gebiede vanaf onder meer die Napier-plaas, Spruitrivier, Bains-vallei en Wellington Wines is deur polisielede gewaarsku dat daar wel ’n moontlikheid van verdere damwal-breuke in die gebied kan ontstaan.

Raadslid Stephan Landsberg het die insident bevestig en verseker dat die situasie tans nog goed onder beheer is.

“Mense is in kennis gestel dat ontruiming ’n goeie opsie is, maar dat dit net as voorsorgmaatreël op die huidige stadium hanteer word. Inwoners het dus nog op die stadium ’n keuse om te bly, of om te ontruim,” vertel nog ’n betroubare polisiebron.

Hy verduidelik dat “een damwal op ’n boer in die Bovlei-gebied se plaas onder die hoë waterdruk gebars het, wat uiteraard toenemende waterdruk op omliggende waterkanale veroorsaak.”

Nooddienste sowel as die gebied se raadslid, Nical Sauerman, dra kennis van die insident en beheer word toegepas, soos deur die Wellington-polisiebron bevestig.

Inwoners word sterk aangeraai om kalm te bly.

Paarl Post bevestig die insident om as waarskuwing te dien, en so ook onnodige paniek en verdere chaos te vermei.

Die boer op wie se plaas die damwal gebars het, het glo ’n delwer-masjien gehuur om slote rondom die geaffekteerde dam te grawe. Sodoende word die sterk watervloei weg van onderdrukte waterkanale herlei en so ook om enige toenemende druk hopelik te verlig.

’n Dringende medianavraag is aan die Drakenstein-munisipaliteit gestuur om die insident, sowel as enige nodige inligting te bevestig.

Die navrae was teen tyd van publikasie onbeantwoord.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article