Aarbeilanderye lê verwoes in De Soete Inval ná verlede week se storms.Foto: Verskaf

Credit: SYSTEM

’n Bloedbad! Dit is wat die landboubedryf verlede week getref het met die swaar reën wat oor die vallei uitgesak het, vir die soveelste keer sedert Desember.

Vroeg in Desember verlede jaar is boere onkant getref toe ’n fratsstorm hul boorde met swaar reën, hael en wind gepeper het. Talle vrugteboere het erg skade gely met wingerde en pruimboorde wat verwoes is.

In Februarie vanjaar het ontydige reën ook veroorsaak dat pruimboere verliese gely het weens uitvoerprodukte wat weens die reën en daaropvolgende hitte begin bars en dus tot niet gegaan het.

En verlede week het die hemele behoorlik chaos gesaai onder Bolandse boere.

Ongelukkigheid word ook uitgespreek oor die beweerde swak bestuur van die Bergrivierdam.

Verskeie grondeienaars meen dat die dambestuur vroeër water uit die dam moes laat en nie moes wag het tot die swaar reën tref nie.

Die Paarlse aarbeiboere Deonette en David Bourbon-Leftley sê hulle het altesaam vier hektaar aarbeie verloor toe die reën Woensdag uitgesak het.

Hul aarbeiplaas lê op die oewer van die Bergrivier in De Soete Inval.

“Dit is ’n derde van ons oes wat verwoes is toe die rivier oorvloei het,” sê Deonette.

“Ons boer al dekades lank hier en het nog nooit so iets beleef nie.

“En dit ná die erge haelskade wat ons pruimbome in Desember getref het.

“Dit is vir almal op die plaas verskriklik hartseer om te sien hoe al jou harde werk net eensklaps verwoes is.

“Die finansiële verlies is reusagtig, dit is ’n baie moeilike tyd vir ons.”

In Wemmershoek is 192 mm vir die week van 15 – 19 Junie aangeteken en in die Paarl 184 mm in dieselfde tydperk.

Jannie le Roux van Vendome-plaas langs die Paarl Arboretum sê hy het nog nie die rivier so hoog sien loop nie.

“ ’n Vorige geslag het gesê dat die Bergrivier oor sy walle was in 1945,” sê hy wel.

Le Roux sê verder normaalweg is die ondergrond weens die reënseisoen eers teen Augustus versadig, waarna daar dus baie afloopwater is.

Maar met die baie vroeë reën is daardie versadigingspunt reeds in Mei vanjaar bereik.

Le Roux het byna sy hele pruimoes in die haelstorm wat die vallei op 13 Desember 2022 getref het, verloor.

Billy Bourbon-Leftley, voorsitter van die Bergrivier-besproeiingsraad en boer op die Wemmershoekpad naby Val de Vie, sê daar is algeheel baie groot skade in die plaaslike landboubedryf weens verlede week se oorstromings.

In sy meer as 50 jaar van boer hier het hy nog nie sulke water gesien nie, sê Bourbon-Leftley.

“Die grond was reeds versadig en dus het alle riviere en strome wat afgekom het die Bergrivier verswelg. Dit was te baie water, te vinnig.”

En volgens hom is die vooruitsigte nie goed nie, omdat Julie en Augustus tradisioneel die maande is wanneer die meeste reën val en die grond nie meer water kan dra nie.

Jannie Strydom, voorsitter van Agri Wes-Kaap, sê dat die skade van die vloed op die landboubedryf baie groot is, maar die presiese skaal daarvan sal eers bepaal kan word wanneer die water gesak het.

Die ergste sektor wat getref is, is sitrus- en aartappelboere wat besig is om te oes.

Langtermynskade is ook aangerig aan tafeldruif- en wyndruif-wingerde.

Strydom sê dat talle boere besproeiingstoerusting verloor het wat vervang sal moet word.

Ook die toegangsroetes tot plase wat verspoel het, is kommerwekkend en ’n groot uitdaging.

Hy het die Wes-Kaapse provinsiale rampbestuur-eenhede asook die Kaapse Wynland bedank vir die planne wat hulle in plek het en hul spoedige optredes.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article