’n Buspassasier wat op pad Kaapstad toe was, het Donderdag (23 Maart) in die Paarlse landdroshof hof verskyn op aanklag van die besit en handel van dagga met ’n straatwaarde van nagenoeg ’n halfmiljoen rand, wat in ’n bus op die N1-hoofweg verby die dorp versteek was.
Dit volg nadat die Wes-Kaapse blitspatrollie Dinsdagmiddag (21 Maart) flink ondersoek ingestel het na ’n bus waarin die dagga versteek was.
Dit is deur die provinsiale polisiewoordvoerder, lt.kol. Malcolm Pojie, bevestig toe hy gespog het dat die waaksaamheid van lede van die provinsiale blitspatrollie vrugte afgewerp toe hulle die 24-jarige verdagte in hegtenis geneem het.
“Dit is in verband met die vonds van meer as 10 kg saamgeperste dagga met ’n geraamde straatwaarde van sowat R500 000. Die lede het dié dag (Dinsdag 21 Maart) inligting opgevolg oor dagga op ’n langafstandbus wat na Kaapstad onderweg was.
“Die waaksame lede het die passasiersbus op die N1-snelweg in die Paarl voorgekeer en deurgesoek,” het Pojie gesê.
Hy het verduidelik die lede het 10,35 kg se saamgeperste dagga in die besit van ’n verdagte op die bus gevind. Die lede het op die dagga beslag gelê en die 24-jarige man in hegtenis geneem. Hy is by die Paarl-polisieselle aangehou terwyl die klagte van die besit van en handel in dagga ondersoek is.
Pojie het dié groot sukses aan knap werk en koördinasie toegeskryf.
“Die verbeterde polisiesigbaarheid in en om ons dorpe en die beveiliging van ons hoof-in-en-uitgangroetes deur die strategiese ontplooiing van ons lede, het weer uitstekende resultate opgelewer met die inhegtenisneming van ’n verdagte wat in die besit van ’n aansienlike hoeveelheid dagga betrap is.”
Die verdagte het Donderdag (23 Maart) die eerste keer op genoemde aanklagte in die Paarl-landdroshof verskyn.
Die provinsiale bestuur het die lede vir hul volharding en waaksaamheid om gemeenskappe van onwettige dwelms te bevry, geprys.





