Bradley OlivierFoto: Facebook/SolomonCupido


Die familie van die Binnelanders-akteur Bradley Olivier het Woensdag (19 Julie) bevestig dat die 36-jarige in ’n kritieke toestand en op lewensondersteuning is in die Life Flora-hospitaal in Johannesburg.

Olivier, wie grootgeword het in die Paarl, is Maandag in die hospitaal opgeneem het ’n familiewoordvoerder, Solomon Cupido, in ’n persverklaring gesê. Hoewel Cupido niks verder uitgebrei het oor wat met Olivier gebeur het nie, word daar gespekuleer dat hy ’n massiewe hartaanval en aneurisme gehad het.

“Oor die afgelope twee dae het Bradley Olivier die beste moontlike mediese sorg en aandag van die Life Flora-hospitaal ontvang. Ten spyte van hul onvermoeide pogings, het dit duidelik geword dat hy ’n punt bereik het waar herstel nie meer moontlik is nie. Ons vra dat u die gesin se privaatheid sal respekteer gedurende hierdie uiters moeilike tyd en ons sal toelaat om in vrede te treur.

“Terwyl ons deur hierdie moeilike tydperk navigeer, laat ons as ’n gemeenskap saamstaan en ondersteuning, deernis en begrip aan mekaar bied. Saam kan ons Bradley se nagedagtenis eer en die positiewe impak wat hy op ons lewens gehad het. Ons betuig ons diepste dankbaarheid aan die mediese persone wat vir Bradley gesorg het gedurende hierdie uitdagende tyd. Hulle toewyding en kundigheid was van onskatbare waarde.”

Olivier vertolk die rol van Danny Jantjies in die KykNet-sepie Binnelanders.

Cupido het verder ’n beroep op die media en die publiek gedoen om hulle daarvan te weerhou om enige spekulasie, rondom Olivier se toestand, te versprei of betrokke te raak by sensasie.

“Ons verstaan die belangstelling in Bradley se toestand, maar dit is van kardinale belang om deernis en respek vir die gesin se wense te prioritiseer.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article