Suid-Afrikaners drink eerder bier om hul dors te les as koeldrank.
Volgens die jongste NielsenIQ- Suid-Afrika-verslag is bier die topverkoper onder snelbewegende verbruikersgoedere, en die verkope daarvan het die afgelope 12 maande met 8% gestyg.
Vir die vyf weke tot 3 April vanjaar het bier koeldrank as die topverkoper geklop. Sigarette is die derde grootste produkafdeling, met verkope wat die afgelope 12 maande met sowat 60% gestyg het, wys Nielsen se data oor kruideniersaankope in die kleinhandelsektor.
Vir dié syfers ontleed Nielsen data van meer as 10 000 handelsnaamwinkels (soos supermarkte en winkels by vulstasies) en nagenoeg 143 000 onafhanklike winkels (bv. spazawinkels). Dit verteenwoordig meer as 80% van alle kruideniersaankope by Suid-Afrikaanse kleinhandelaars.
Ged Nooy, besturende direkteur van Nielsen Suid-Afrika, sê in ’n verklaring die verbod op die verkoop van alkohol en tabakprodukte tydens die streng Covid-19-inperkings in 2020 en 2021 het tot die skerp groei in dié verkope van ’n lae basis af bygedra.
Volgens statista.com vorm bier die grootste deel van alkoholverkope in Suid-Afrika. Dit sal na verwagting vanjaar meer as R116 miljard beloop. Daarenteen word geraam die inkomste uit verkope van alkoholvrye bier sal vanjaar nagenoeg R1,2 miljard beloop en in die volgende drie jaar teen 15% per jaar styg.
Serena Ramiah-Chetty, senior handelsnaambestuurder vir innovasie by Heineken Suid-Afrika, sê die biermark het die afgelope twee jaar met dubbelsyfers gegroei. Dit duur vanjaar voort.
Alkoholvrye bier bly ’n klein sub-afdeling van die plaaslike mark. Verkope het tydens die inperkings gestyg, maar die segment het begin krimp nadat die verbod op alkoholverkope opgehef is, sê sy.
BusinessWire, ’n Berkshire Hathaway-maatskappy, raam die SA biermark (bereken op grond van kleinhandelpryse) sal tot 2024 teen sowat 5% per jaar groei tot ’n waarde van $12 miljard (meer as R190 miljard teen die huidige wisselkoers).
Onder die 20 topprodukte wat Nielsen meet, het die prys van kookolie die afgelope tyd die skerpste opgeskiet.
Volgens Nooy is dit grootliks weens Indonesië se besluit om die uitvoer van palmolie te staak om plaaslike tekorte te keer. Die prys van sojabone, Europese raapsaad en selfs kanola-olie is ook op historiese hoogtepunte. “Omdat plantolies ’n onverwerkte bestanddeel in verskeie produkte is – van voorbereide etes tot persoonlikesorgprodukte, sal stygende pryse ’n verdere negatiewe uitwerking hê.”
Volgens Statistieke SA se inflasiesyfer vir April, wat die afgelope week uitgereik is, is olies en vette nou 21% duurder as ’n jaar gelede. Inflasie op kosprodukte is byna dubbel soveel as die meeste ander kategorieë.
Nielsen sê die gemiddelde prys van kookolie in winkels was in die week voor Rusland se inval in Oekraïne R42,76 per liter. In die week tot 1 Mei het verbruikers byna R12 per liter meer opgedok – R54,70 per liter.
James Hodge, hoofekonoom van die Mededingingskommissie, het in ’n televisie-onderhoud met SABC News gesê die kommissie hou die prys van kookolie dop om te verseker kleinhandelaars en maatskappye wat eetbare olies verwerk, verhoog nie pryse onnodiglik skerp nie.
Volgens Nielsen koop Suid-Afrikaners nie meer so baie langlewemelk en kitskoffie soos aan die begin van die Covid-19-pandemie en -inperkings – toe baie mense van die huis gewerk het – nie. Verkope het ’n plato bereik omdat meer verbruikers weer kantoor toe gaan.




