Leerders by die agt landelike skole in Wellington sal deur die mobiele biblioteek bedien word. Agter staan Jacobus Minnaar (voertuigbestuurder van die mobiele biblioteek) en dr. Thys Smith (Kinderland Akademie). Voor van links sit Cathy Naeem (voltydse onderwyser van die biblioteek), Ilse Human (Kinderland Akademie) en Gertie Smit (Kinderland Akademie). Afwesig: Suzaan Steyl (Kinderland Akademie).Foto: Chantélle Hartebeest


Boeke open nuwe wêrelde vir kinders wanneer hulle gereeld lees. Deur middel van ’n nuwe mobiele biblioteek sal liefde vir lees nou verder aangemoedig kan word onder plaaslike kinders.

Die opwindende mobiele biblioteek sal elke week by agt landelike skole in Wellington ’n draai maak. Die biblioteek op wiele is verlede week van stapel gestuur en word bestuur deur Kinderland Akademie – ’n niewinsgewende organisasie wat daarop fokus om opvoeders wat by kleuterskole in minderbevoorregte gemeenskappe werk toe te rus met kennis sodat hulle gehalte-opvoeding aan die kinders in hul sorg kan verskaf. Die projek word geborg deur DGB wat een van Suid-Afrika se grootste onafhanklike wyn- en spiritusprodusente en -verspreiders is.

Volgens dr. Thys Smith van Kinderland Akademie het DGB die afgelope ses jaar die mobiele biblioteek in die Rawsonville-omgewing gehad in samewerking met Du Toitskloof-kelder. Die biblioteek het nou na Wellington verskuif, waarvan Du Toitskloof-kelder nie meer deel is nie.

Met die nuwe baadjie wat die projek aangetrek het, sal dié biblioteek nou spesifiek fokus op taalvaardigheid en woordeskat-ontwikkeling by die agt Wellington-skole.

“Daar is ’n voltydse juffrou op die luuksebus wat toegerus is met die nuutste opvoedkundige boeke. Die klem sal val op kinders in die grondslagfase. Die agt landelike laerskole wat deel vorm van hierdie projek is Wagenmakersvallei, Blouvlei, Alfons, Kersboslaagte, Soetendal, Bergrivier, Groenberg en Rondeheuwel.”

Die biblioteek het ook ’n klein klaskamer waar voorlesings sal plaasvind. Dit is verder toegerus met lugreëling, ’n televisieskerm vir voorleggings, internet en ’n kragopwekker. ’n Lang tafel met gemaklike stoeltjies sorg ook dat kinders lekker kan sit en lees binne-in die biblioteek.

Onderwysers by die verskeie skole sal ook by die projek betrek word. By die bekendstelling van die mobiele biblioteek verlede Woensdag (20 Julie) het baie onderwysers van die betrokke skole en ’n verteenwoordiger van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) die geleentheid bygewoon. Hulle verwelkom die projek met ope arms, en sien uit na die positiewe resultate wat dit sal lewer deur die vordering van die kindertjies. Die mobiele biblioteek-projek kom ook op ’n goeie tyd, ter ondersteuning van die WKOD wat deur meer tyd te bestee aan lees en wiskunde vir grondslagfase-leerders, wil opmaak vir die leerverliese wat meegebring is as gevolg van die pandemie.

. Books open up new worlds for children when they read regularly. By means of a new mobile library, a love of reading can now be further cultivated among local children.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article