Die familie van ’n jong vrou wat in 2022 op 19-jarige ouderdom na bewering deur ’n fotograaf van Wellington verkrag is, sê hulle het met skok verneem dat dié fotograaf op borgtog vrygelaat is en ook sedertdien deur sy werk in Stellenbosch heraangestel is.
Die fotograaf, wie se identiteit aan Paarl Post bekend is, het op 12 Augustus vanjaar in ’n Paarlse hof verskyn waar hy gehoor het dat sy verhoor in Augustus 2025 sal begin.
Hy is in Mei verlede jaar by sy werk in Stellenbosch in hegtenis geneem nadat hy glo die 19-jarige slagoffer tydens ’n fotosessie seksueel aangerand het.
Hy het in daardie stadium glo gevlug en is toe in Stellenbosch aangekeer.
Die saak is eers in die Wellington-landdroshof aangehoor en toe na die Paarl oorgeplaas.
Paarl Post het in Februarie verlede jaar berig dat dit glo nie die eerste keer was dat hy vroue tydens fotosessies op dié wyse na bewering verkrag het nie.
Sy modus operandi was glo om vroue en potensiële modelle deur sosiale media te lok.
Baie van hierdie voorvalle het glo op die Bainskloofpas buite Wellington gebeur.
Hy is sedertdien egter slegs vir die verkragting van die 19-jarige, wat nou 21 jaar oud is, aangekla.
Die slagoffer se pa het vandeesweek aan Paarl Post gesê die familie voel die regstelsel is besig om hulle in die steek te laat.
“Ons voel dat hy nie soos ’n misdadiger hanteer word nie. Vir my as ’n pa het dit aan die begin gevoel dat ek my kind gefaal het.
“Ek is persoonlik teleurgesteld met die uitkoms en hantering van hierdie hele saak sover.
“Ons het maar amper half vrede gemaak.
“Ek sukkel egter om hom te vergewe en te vergeet. Daar is steeds hierdie gevoel binne in my dat ek hom iets sal aandoen as ek hom in die hande kry.
“Vir my kind en my familie se onthalwe, laat ek dit maar in die Here se hande,” het die slagoffer se pa vandeesweek gesê.
Die slagoffer was glo twee jaar voor die fotosessie reeds in kontak met die fotograaf toe hy na bewering aan haar gesê het hy neem nie foto’s van minderjariges nie.
“Hy het haar toe self weer gekontak nadat sy 19 geword het. Hy het haar glo vertel van ’n kompetisie en selfs ’n billike prys vir die fotosessie aangebied,” het Kaylynn Palm van die organisasie Action Society by vorige navraag gesê.
Paarl Post het intussen verneem dat hy deur sy werk in Stellenbosch, waar hy verlede jaar in hegtenis geneem is, heraangestel is.




