Maak seker jou elektriese toestelle is almal volgelaai, want in alle waarskynlikheid is beurtkrag weer ons voorland.
Eskom het vanmiddag gewaarsku dat vier van hul opwekkingseenhede onklaar geraak het, met nog twee eenhede wat ook steeds in herstel is.
Eskom het die publiek versoek om sy elektrisiteitsverbruik te verminder aangesien die kragopwekkingstelsel ernstig beperk is.
“Ons doen ’n beroep op die publiek om voort te gaan om elektrisiteitsverbruik te verminder om die moontlikheid van beurtkrag te help vermy.
“Sou die situasie egter verder versleg, sal beurtkrag dalk binnekort geïmplementeer moet word as ’n laaste uitweg om die nasionale netwerk te beskerm,” het die kragvoorsiener Maandagmiddag in ‘n verklaring gesê.
“Dit tesame met die gure weer, wat die vraag na elektrisiteit laat toeneem het, het die kragstelsel onder druk geplaas.
“Eskom werk hard daaraan om soveel as moontlik van hierdie opwekkingseenhede weer in diens te neem,” het die semistaatsinstelling in ’n verklaring gesê.




