“Daar is lig aan die einde van hierdie tonnel,” het pres. Cyril Ramaphosa in 2015, toe hy nog adjunk was, aan die lede van die Parlement oor die land se elektrisiteitskrisis gesê.

Vandag is hy die president en steeds predik hy niks anders nie as lippediens; dit is meer praatjies as enigiets anders – praatjies oor ons gaan nog, of ons is besig om te kyk na dit en dat. Geen praktiese plan, strategieë of oplossings word aan die land duidelik gemaak nie – ons word in die donkerte gelaat.

Jare later is daar egter steeds geen “lig aan die einde van hierdie tonnel” nie, meneer die president. Steeds sit ons maar hier en wag tot wanneer dit ons “beurt” is om elektrisiteit in ons huishoudings te hê. Dit het nou al die norm of normaal in Suid-Afrika geword.

Ek is al eerlikwaar op daarvan om my beurt af te wag vir iets soos elektrisiteit. Dit bring eintlik ’n baie bekende gevoel terug, waar jy vir meer as vyf ure in ’n ry jou “beurt” moet afwag by ’n kantoor van binnelandse sake net vir ’n aansoekbrief vir ’n identiteitsdokument.

Of wanneer jy vir vyf ure in ’n ry jou “beurt” moet afwag net om ’n dokter of verpleegster by ’n staatshospitaal of kliniek te sien. Wanneer jy langer as vyf ure in ’n ry jou “beurt” moet afwag voordat ’n polisiewa jou kan kom help in ’n tyd van nood.

Nietemin, dit is glad nie normaal nie. Dit kan nie die norm wees nie – iewers moet die streep getrek word; iewers moet iemand die politieke wil hê om Eskom se kragkrisis ’n nasionale ramp te verklaar en dit ’n voorkeur te maak.

Dit raak almal van ons. Dit raak die man op die straat. Dit raak die kind wat môre moet skool toe gaan. Dit raak die ma wat in die vroeë oggendure in die donker moet werk toe stap. Dit raak selfs die middelklasman, die sakeman en veral dié wat klein ondernemings bedryf.

Ons ekonomie kan ook nie meer die druk verduur nie. Asof die Covid-19-pandemie nie reeds genoeg skade aangerig het nie, moet ons ekonomie nou verder agteruitgaan as gevolg van ’n gebrek aan sterk leierskap – ’n gebrek aan praktiese en doeltreffende oplossings.

Die ANC is verantwoordelik

Prof. Jonathan Jansen, uitgelese professor aan die Universiteit Stellenbosch (US), twiet vandeesweek: “Snaaks dat ’n land met soveel slim mense in besigheid en wetenskap nie die elektrisiteitsprobleem kan oplos nie.”

Die probleem en snaaksheid lê glad nie by hierdie kundige mense nie, prof. Jansen – dit lê by die regering wat aan bewind is. Die vraag wat ons eerder moet vra, is hoekom is hierdie mense nie in kernrolle in die regering nie?

Wel, ek dink ons almal weet al wat die antwoord op dié vraag is – hierdie poste word slegs vir ANC-vriende en -kaders beskikbaar gemaak. Hoofregter Raymond Zondo se staatskapingsverslae bewys dit.

Eskom het mos soos meeste ander staatsentiteite baantjies vir boeties geword. Jy kry die pos as jy goeie bande met die ANC het. Ongelukkig is dit die gewone landsburger wat aan die swaarste ent trek wanneer dinge skeefloop (soos nou) omdat die mense in hierdie strategiese poste glad nie strategies opgelei is om die strategiese werk te verrig nie.

Die regering se onvermoë om Eskom reg te ruk en doeltreffende mense in kernrolle te plaas, spreek van sy gebrek om verantwoordelikheid en aanspreeklikheid vir die krisis te neem.

Regering neem geen aanspreeklikheid nie

Selfs Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, weier om aanspreeklikheid te neem nadat hy onlangs aangevoer het dis “onbillik” om hom of die regering die skuld te gee vir die huidige kragkrisis. Dit is dieselfde minister wat homself in sy prestasieooreenkoms met pres. Cyril Ramaphosa verbind het om die energiebeskikbaarheidsfaktor by Eskom te help verbeter om te verseker dat daar wel volgehoue elektrisiteitsverskaffing is. Nou wonder ’n mens darem regtig wie die skuld moet kry as dit “onbillik” is om ministers soos Mantashe of die regering vir hierdie krisis te blameer? Is Eskom dan nie in die hande van die regering nie?

Raak ontslae van rampokkers

Die beste oplossing wat ons het, is om ontslae te raak van hierdie spul rampokkers. Ons kan nie langer vaskyk in die rol wat die ANC in die pad na demokrasie gespeel het nie. Ja, ’n mens kan hom daarvoor bedank, maar duidelik kan ons die ANC nie elke keer daarvoor by die stembus bedank nie. Kyk wat kry ons terug!

Nóú, meer as ooit, kort ons ’n regering wat sy mense eerste sal stel. Ons kort ’n regering wat ons land, sy ekonomie en elke krisis soos die kragkrisis kan red.

Ons kort lig aan die einde van hierdie tonnel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article