Die aankondiging deur Drakenstein-munisipaliteit aan die begin van die jaar dat sy verkeersentrums asook die munisipale hof van 3 Januarie nie kontant sal aanvaar nie en slegs met bankkaarte transaksies sal doen, het gemengde reaksie by die publiek gelok.

Dié verandering sal slegs by die volgende munisipale afdelings geld: Die Dal Josafat-toetssentrum, die verkeersentrum in Bergrivier Boulevard, die Wellington-verkeersentrum, Wellington-voertuiglisensiëring (in die burgersentrum) en die munisipale hof by Bredastraat 60, Paarl.

Baie lede van die publiek het die nuwe verwikkelinge verwelkom, terwyl sommige meen dat die diens nou net beskore is vir mense wat wel ’n bankrekening het.

’n Inwoner het op sosiale media gevra hoe nou gemaak wanneer ’n kind wat nog nie ’n bankrekening het nie vir hom of haar ’n afspraak vir ’n leerlinglisensie wil gaan maak, veral omdat dit nie altyd prakties moontlik is vir ’n ouer om die kind te vergesel nie.

Ander wou weet wat gaan gebeur wanneer beurtkrag toegepas word en soos by baie ander plekke die kaartmasjien van lyn is omdat die seine dikwels ’n probleem is tydens beurtkrag.

Volgens Gerald Esau, uitvoerende direkteur: gemeenskapsdienste by Drakenstein-munisipaliteit, het verlede jaar se kontantroof by die Dal Josafat-verkeersentrum die munisipaliteit genoodsaak om alle risiko’s aan te pak en dienooreenkomstig daadwerklike oplossings te vind om veiligheid te verseker.

“Die raad moet te alle tye sy personeel en bates beskerm en deurgaans aanpas by tegnologie. Die nuwe kontantlose betalingstelsel beoog dus om kontantpunte met hoër risiko kontantloos te bestuur, van Januarie vanjaar. Let ook daarop dat daar ’n paar jaar gelede ’n besluit geneem is om alle tjekbetalings op te skort. Dit was ook een van die hoogs doeltreffende stappe wat geneem is om die verbruiker en die munisipaliteit te beskerm en risiko te verminder. Dit is nou die algemeen aanvaarde praktyk by die meeste munisipaliteite,” het Esau gesê.

Oor die bekommernis dat leerders of werkloses wat nie ’n bankrekening het nie nou nie van die diens gebruik sal kan maak nie, het Esau gesê marknavorsing toon dat ongeveer 85% van alle Suid-Afrikaners bo die ouderdom van 14 jaar wel ’n bankrekening het. Hy sê ook ’n betaling kan maklik wettig afgehandel word wanneer die bankkaarthouer bloot die aansoeker na die verkeersdepartement vergesel.

Beurtkrag en die seinprobleme wat dikwels daarmee gepaard gaan, gaan egter vir eers betalings by van die bogenoemde afdelings kniehalter.

Esau het verduidelik dat aanlyn betalings nie tydens beurtkrag beskikbaar sal wees by plekke waar daar nie ’n kragopwekker is nie.

“Die raad is in die proses om alternatiewe krag in plek te stel ten einde die probleem op te los. Die Dal Josafat-verkeersentrum het reeds ’n kragopwekker vir hierdie doel, terwyl die Wellington- en Paarl-sentrums spoedig ook kragopwekkers behoort te kry, in welke geval betalings en elektroniese eNatis-transaksies sal kan geskied.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article