Die Paarl se hart het vanjaar weer eens met trots geklop die Kaapse Wynland Distriksmunisipaliteit (KWDM) se prysuitdeling vir toppresteerders.
Die geleentheid is onlangs (op 6 Februarie) by die Paarl-stadsaal gehou.
“Die prestasies waaraan ons vanaand erkenning gee, is nie net individuele oorwinnings nie, maar ’n bewys van die verbintenis van ons skole, onderwysers en gemeenskappe om ’n beter toekoms vir ons jongmense in die Kaapse Wynland-distrik te skep,” het die uitvoerende burgemeester, (dr.) Elna von Schlicht, tydens haar toespraak gesê.
“Elke student wat vandag hier sit, behoort te weet dat ons ongelooflik trots is op julle. Julle is die toekomstige leiers, innoveerders en veranderingmakers van ons streek.”
Emma Loubscher van die Hoër Meisieskool Paarl beklee die tweede plek onder die topdrie-matriekpresteerders van 2024 in die Kaapse Wynland.
“Ek het glad nie al die erkenning verwag nie en dit was vir my ’n bietjie oorweldigend, maar tog so spesiaal. Dit was heerlik om die aand met my ouers en ’n onderwyser wat my baie na aan die hart lê, te kon deel. Ek is tans besig om medies aan die Universiteit Stellenbosch te studeer en ek hoop om teen 2030 ’n gekwalifiseerde dokter te kan wees!”
Al die topleerders is ook aangewys as begunstigdes van die burgemeester se studiehulpfonds. Elke leerder het ’n beduidende studiehulptoewysing van R20 000 ontvang, wat direk na hul onderskeie instansies of kursusse oorgeplaas sal word.
Twee plaaslike opvoeders is elkeen vereer met ’n spesiale burgemeesterstoekenning. Irma Mentoor van Ligstraal Skool in Paarl-Oos is vereer vir haar visioenêre leierskap en verbintenis tot voortreflikheid in voorspraak en steun vir leerders met spesiale behoeftes.
Volgens Mentoor is die ontvangs van die toekenning vir haar ’n ware eer en ’n oomblik van trots.
“Dit verteenwoordig nie net ’n persoonlike prestasie nie, maar ook die erkenning van my bydrae tot die gemeenskap en die streek. Hierdie toekenning weerspieël die harde werk, toewyding en passie wat ek in spesiale onderwys by Ligstraal Skool belê het. Om deur so ’n instansie erken te word, is ’n voorreg. Ek is opreg dankbaar vir elkeen wat my op die reis ondersteun het.”
Nog ’n trotse oomblik en groot eer was toe Lalindei Botha van die Laer Meisieskool La Rochelle ook erkenning ontvang het vir haar voortreflikheid in tegnologie versterkte onderrig en leer.
“Hierdie erkenning het vir my besondere betekenis, veral ná die pryse wat ek verlede jaar ontvang het, insluitend die NTA’s en die SOS Skole Onnieveerder van die Jaar. Hierdie toekenning dien as ’n waardevolle motivering om my voortdurend ten volle in te span en my beste te lewer – nie net vir die Laer Meisieskool La Rochelle nie, maar ook vir die gemeenskap as geheel.
“Ek wil graag die Kaapse Wynland-munisipaliteit bedank vir die uitmuntende aand waarin hulle die toppresteerders vereer het. Nie net is die matrieks vereer nie, maar ook die onderwysers, wat die aand se betekenis verder versterk het. Die bederf en die erkenning van onderwys het vir my ’n enorme bemoediging gebring. Ek wil ook my dank uitspreek aan die Laer Meisieskool La Rochelle, wat elke onderwyser en leerder die geleentheid bied om te groei en hul potensiaal ten volle te verwesenlik.”





