Die argivaris Pétria de Vaal bied vanaf 25 tot 27 Mei ’n inleidende, tweetalige argief-werkses­sie by die Taalmonument in die Paarl aan.

Dié gewilde driedag-werksessie, wat vanjaar vir die sewende keer aangebied word, is geskik vir biblio­tekarisse, museum- en erfenisbeamp­tes asook dokumentering- en argiefassistente.

De Vaal is ’n gekwalifiseerde argi­varis met baie jare se ervaring in die veld van rekordbestuur en argive­ring. Sy het deur haar werk as raadgewer, navorser, erfenisbeampte, projekleier en afrigter ontdek dat dit noodsaaklik en belangrik vir biblio­teke, dokumentasiesentrums, museums en ander verwante dissi­plines is om saam te werk en meer te leer oor argivering.

Hierdie inleidende driedaagse werksessie sal aan alle inligtings­beamptes die nodige opleiding verskaf; geen voorafkennis word benodig nie. Die werksessie sluit praktiese sessies in en fokus op onderwerpe soos die verskille tussen biblioteke, argiewe en dokumentasie­sentrums; insameling en aanwins; waardebepaling (onder meer die waarde van rekords asook beskik­kings-instruksies); sortering en ordening; beskrywing/indeksering; bewaring; rampbestuurplan; en wenke oor die toeganklikheid van argiewe. Die kursus kos R2 000 en vind daagliks van 09:00 tot 16:00 in die konferensielokaal in die besoe­ker­sentrum by die Taalmonument plaas. Vir nog inligting kontak Jeffrey Pietersen by 021 872 3441 of stuur ’n e-pos na bemarking2@taalmuseum.co.za.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article