Die gruwelmoord op 21 Januarie, wat die lewe van Karmen Malan (65) in Joubertstraat, Paarl-Sentraal, geëis het, het struikelblokke van dié buurt se inwoners wat hul erwe beter wil beveilig, weer na vore gebring.
’n Buurvrou langs Malan se agterplaas in Kloofstraat het aan Paarl Post vertel dat hulle van die vele inwoners is wat al gesukkel het om hul erwe met hoër heinings te beveilig.
“Ons is al deur dieselfde proses met Erfenis Wes-Kaap om toestemming te kry om ons erwe se veiligheid met nuwe heinings te verskerp. Die heinings wat ons destyds wou oprig, lê nou al twee jaar op ons erf. Die Drakenstein-munisipaliteit het ons destyds in ons spore gestuit en beveel om die heining af te breek totdat ons voldoende toestemming kon verkry,” het die buurvrou vertel.
Die Drakenstein-munisipaliteit se uitvoerende direkteur van beplanning en ontwikkeling, Jacqui Samson, sê egter: “As erfenis binne die konteks van die Drakenstein-munisipaliteit bespreek word, moet kennis geneem word van die feit dat die nasionale Wet op Erfenishulpbronne (1999), die nasionale Wet op Bouregulasies en Boustandaarde (1977), asook die Drakenstein-soneringskema-verordening (2018) van toepassing is.”
Verder, meen Samson, moet dit ook in gedagte gehou word dat ’n grensheining geag word as ’n struktuur.
“Die nasionale Wet op Erfenishulpbronne stipuleer dat niemand ’n struktuur, of ’n gedeelte van ’n struktuur wat ouer as 60 jaar is, mag sloop of verander sonder ’n permit van die relevante provinsiale erfenishulpbrongesag nie.”
In die konteks van die Wes-Kaap, is Erfenis Wes-Kaap die provinsiale erfenishulpbrongesag.
Sy verduidelik dat slegs kommentaar op die aansoek in die permit-aansoekproses van die munisipaliteit, asook Drakenstein Heritage Foundation (DHF) en Paarl 300, versoek word.
“Die voorgenoemde kommentaar word daarna deur Erfenis Wes-Kaap in ag geneem, ten einde in terme van die erfeniswetgewing ’n besluit te neem.”
Sy sê dit is belangrik om daarop te let dat die munisipaliteit geen besluitnemende magte in terme van die nasionale Wet op Erfenishulpbronne het nie.
“Daarby is die ‘Paarl- spesiale karakter-beskermde gebied-oorlegsone’ as deel van die Drakenstein-soneringskema-verordening afgekondig.”
Die voorgenoemde oorlegsone sluit grotendeels Hoofstraat in die Paarl in, sowel as gedeeltes van die Paarl-middedorp, wat Joubertstraat insluit.
Dié verordening stipuleer dat geen gebou, struktuur of landskapselement gesloop, verander, uitgebrei of ontwikkel mag word sonder die toestemming van die munisipaliteit nie.
“Die aansoek om toestemming te verkry, is deel van die nodige bouplanaansoek in terme van die nasionale Wet op Bouregulasies en Boustandaarde, wat stipuleer dat niemand enige struktuur sonder die goedkeuring van die munisipaliteit mag ontwikkel nie.”
Samson verduidelik tydens die bouplanaansoekproses word kommentare vanuit ’n erfenis-oogpunt op die bouplanaansoek versoek van die Advieskomitee vir Stadsestetika en Omgewingsake (AKSO), wat namens die munisipaliteit optree.
“Gedurende die evaluering van die bouplanaansoek sal die kommentare van AKSO deur die boubeheerbeampte in ag geneem word, wat die gemagtigde besluitnemingsgesag is in terme van die wetgewing, ten einde hom of haar in staat te stel om ’n finale besluit te neem.”
Len Raymond het Paarl Post daarop gewys dat hy nie, soos voorheen berig, Erfenis Wes-Kaap in enige vorm of hoedanigheid verteenwoordig nie.
“Ek het in die verlede as voorsitter van die DHF en op verskeie komitees van Erfenis Wes-Kaap gedien en as sodanig is ek bewus van die kwessies wat in die vorige artikel berig is.”
Hy meen egter die Drakenstein-munisipaliteit en Erfenis Wes-Kaap het opnames van die erfenishulpbronne in die Paarl gedoen om die belangrikheid van erfenis vas te stel en die hulpbronne dienooreenkomstig te gradeer.
“Hierdie gradering sal die vlak van beskerming wat vereis word sowel as die reaksie op ’n aansoek beïnvloed.”
Hy sê hy is wel bewus van spesifieke toepassings van dié regulasies op die hoek van Oranje- en Victoriastrate (wat naby Joubertstraat geleë is).
“Dit het ’n hoë omheining met ’n duidelike uitsig wat, van die grens af, genoeg is om indringers met behulp van dié mure af te skrik sodat die veiligheidsomheining nie onwettig is nie, maar toestemming moet vooraf verkry word.
“Anders sal die munisipale bou-inspekteurs geen ander keuse hê nie as om aan te dring dat jy dit of verwyder of goedkeuring daarvoor binne ’n kort tydperk verkry.”
Die munisipaliteit rig ’n vriendelike versoek dat, indien grondeienaars beoog om enige verandering aan enige struktuur wat ouer as 60 jaar is, aan te bring of enige strukture binne die “Paarl- spesiale karakter- beskermde gebied-oorlegsone” te verander of te ontwikkel, hulle eers die munisipaliteit se ruimtelike beplanning en erfenis-afdeling moet kontak.
“Hier sal enige inligting beskikbaar wees met betrekking tot ’n spesifieke terrein en om die nodige prosesse te verkry,” sluit Samson af.





