Die doelwit van die meeste langtermyn-spaarders of afgetredenes wat van hul kapitaal leef, is die beskerming van hul koopkrag en kapitaal. Die geskiedenis het geleer dat ’n belegging in aandele oor die lang termyn die beste inflasiebestryder is.
Die probleem is egter dat hierdie beleggingsdoelwitte teenstrydig is weens die sikliese aard van ’n belegging in aandele.
Met finansiële markte wat tans op inflasie gefokus is, wonder baie beleggers wat hulle kan doen om hul kapitaal en koopkrag te beskerm. Ek kry dikwels hierdie twee vrae, en ook gereeld op dieselfde tydstip. Huidige marktoestande maak dit moeilik om jou kapitaal sowel as jou koopkrag ten volle te beskerm. Die oplossing is om te fokus op jou beleggingsdoelwit: kapitaalbehoud en/of die beskerming van koopkrag? Struktureer dan jou portefeulje om jou beleggingsdoelwit te bereik in ooreenstemming met jou risikokapasiteit.
Wat word hiermee bedoel?
Indien jou enigste doelwit kapitaalbehoud is, moet jy bloot in kontant of soortgelyke alternatiewe beleggings belê. Daarenteen, as jou enigste doelwit die beskerming van langtermyn-koopkrag is, moet jy in ’n gediversifiseerde aandeleportefeulje belê.
Alhoewel aandele histories getoon het dat dit ’n goeie inflasiebestrydende belegging oor die lang termyn is, is dit ongelukkig nie ’n goeie korttermyn-verskanser teen inflasie nie. Wanneer inflasie aan die styg is, soos ons nou in die ekonomiese herstelfase sien, gebeur dit dikwels dat aandele daal. Aan die begin van só ’n siklus lyk aandele dus op die oog af na ’n slegte idee. Dit is egter met verloop van tyd dat waarde ontsluit word.
Ons adviseer baie afgetrede kliënte wat van hul aftreekapitaal leef. Hul doelwitte ná aftrede is ’n goeie voorbeeld van ’n balans tussen kapitaalbehoud en die beskerming van koopkrag. Vir die afgetredene is die primêre doelwit gewoonlik om ’n maandelikse inkomste te ontvang wat met inflasie tred hou. Terselfdertyd is die behoud van hul aftreekapitaal belangrik.
Jy het dus ’n mate van stabiliteit nodig vir die voorsiening van inkomste oor die kort/medium termyn (een tot vyf jaar). Hiervoor gebruik jy geldmark- en inkomstefondse en laerisiko-beleggings. Om jou koopkrag oor die langer termyn (sewe jaar en langer) te beskerm, stuur jy kapitaal na ’n aandelebelegging terwyl jy die blootstelling aan aandele ooreenkomstig jou risikoprofiel hou.
Hoewel die langtermyn-syfers van aandele teenoor inflasie histories oortuigend is, is dit steeds belangrik om tussen kort- en langtermynverpligtinge te onderskei.
Die inligting in hierdie artikel is algemene inligting. Dit is nie finansiële, belasting-, regs- of beleggingsadvies nie en die maatskappye in die PSG Konsult Groep waarborg nie die geskiktheid of potensiële waarde daarvan nie. Aangesien individuele behoeftes en risikoprofiele verskil, stel ons voor dat jy jou gekwalifiseerde finansiële adviseur raadpleeg indien nodig. PSG Wealth Financial Planning (Pty) Ltd is ’n gemagtigde finansiële diensverskaffers
. Karel de Waal is ’n welvaartadviseur by PSG Paarl Cecilia Square – Dewaal.Karel@psg.co.za / 082 432 6381





