Toe die beskeie Samuel Viljoen, keldermeester van Nederburg-wynlandgoed in die Paarl, daarvan te hore kom dat sy naam nou onder die wêreld se 100 beste wynmakers pronk, was sy eerste reaksie: “Wynmaak is ’n spanpoging!”
Sodoende gee hy eerder oudergewoonte erkenning aan sy talle wynbou- en wynmaak-kollegas.
Die saggesproke prediker-seun is pas deur The Drinks Businessaangewys as een van die wêreld se top-100-wynmakers. As ’n Meester-wynmaker 100 van 2023 skuur hy nou skouers met legendariese wynmakers soos Olivier Humbrecht MW van Domaine Zind-Humbrecht, Marimar Torres van Marimar Estate en Peter Gago van Penfolds-faam.
Sy insluiting op die roemryke lys is vir die 2018- Nederburg Private Bin R163 Cabernet Sauvignon, die wenner van die Global Master’s 2022-titel vir cabernet sauvignon. Hierdie wyn is gemaak toe hy Nederburg se rooiwynmaker was.
Hy het hom in 2007 by die kelder aangesluit nadat hy onder meer in Oregon in die VSA asook by Klein Constantia wyn gemaak het.
Hy gee toe dat sy groot krag daarin lê om gelyktydig die detail en die groot prentjie in gedagte te hou. “As jy die konteks van wat jy doen in ag neem, word dit makliker. Jy besef hoe individuele besonderhede kan bydra tot nuanse en fynheid in die uitvoering van jou voornemens. Om die aanloopbesonderhede reg te kry, maak jou vry om heerskappy te gee aan jou kunssinnigheid in die kelder.
“Ek hou daarvan om te dink dit is ’n benadering wat my ’n goeie wynmaker en ’n goeie en georganiseerde leier maak, met die vermoë om ons prioriteite en eise, groot en klein te balanseer,” voeg hy skaam by.
Dit is hoe hy daarin slaag om ’n span te lei wat gemaklik ’n beperkte hoeveelheid wyn by uitstek, soos die Private Bin R163 Cabernet Sauvignon, te kon skep en terselfdertyd die gewilde rooi versnit, Baronne (Nederburg se gewildste rooi versnit) ’n plaaslike gunsteling in die mark vir 50 jaar vanjaar, te maak.
“As jy die frekwensie sou bereken waarmee ’n bottel Baronne elke dag iewers in Suid-Afrika oopgemaak word, is dit een elke 15 sekondes!”
So gretig as wat hy is om die bydrae van die wingerd- en kelderspanne by Nederburg te bekragtig, beklemtoon Samuel dit is positief vir die land om vier Suid-Afrikaanse wenners op vanjaar se Master Winemaker 100-lys te hê. “Graham Weerts van Capensis, Bruce Jack van Bruce Jack Wines en Dewaldt Heyns van Saronsberg en onsself – dit voel goed om in sulke geselskap te wees.”





