Die Ou Meulhuis in Blake-straat in die Paarl. Die huis is geleë agter die Ou Meulteater.


Die Drakenstein-munisipa­liteit sê hy ondersoek bewerings dat private veiligheidswagte glo op die instruksie van ’n munisipale amptenaar ’n gesin, wat die Ou Meulhuis in die Paarl beset, met hul haelgewere “gedreig en geïntimideer” het.

Dié onthullings is op Vrydag (26 April) se raadsvergadering deur die GOOD-party geopper, wat aangevoer het dat hulle die betrokke gesin ná die voorval sal bystaan.

Die beweerde voorval het glo op 2 April gebeur, waarna ’n amptelike klag by die polisie aanhangig gemaak is.

Koos le Roux, Drakenstein se speaker, het op verlede week se raadsvergadering bevestig die raad sal die aantygings oor die munisipaliteit se beweerde betrokkenheid ondersoek.

Die Drakenstein-munisipaliteit is sedert 2013 reeds in ’n stryd gewikkel om die ses gesinslede uit die huis uit te kry en het sover gegaan om ’n uitsettingsbevel deur die hooggeregshof in Kaapstad te bekom.

Ingevolge die jongste bevel moes die gesin teen 16 Februarie vanjaar uittrek waarna die munisipaliteit hulle van alternatiewe behuising sou voorsien.

Paarl Post het vroeër berig die besetters is die gesin van ’n veroordeelde munisipale werker, Samuel Cupido, wat aan bedrog ter waarde van R3 miljoen by die munisipaliteit skuldig bevind is.

Hy en drie ander munisipale werkers en nog ’n vrou is in 2006 vir bedrogaanklagte in hegtenis geneem.

Muizudeen, Cupido se 24-jarige seun, het verlede week aan Paarl Post gesê sy pa woon nie meer saam met hom, sy ma en drie sibbe in die huis nie.

Hy het vertel dat die private veiligheidswagte glo op 2 April die perseel binnegestorm en hom en sy sibbe met die haelgewere gedreig het.

“Ek het op my bed gelê en wakker geskrik met die een wag se stem by my kamervenster.

“Toe ek my oë oopmaak, het ek in sy gesig vasgekyk.

“Hy het die geweer in my rigting deur die kamervenster gerig en wou weet wie ek is en of ek hier woon.”

Hy het vertel hoe hy in sy toestand van skok en verwarring dadelik sy ma, Nadeema, in die hande probeer kry het wat in daardie stadium by haar werkplek was.

Twee wagte van ’n privaatveiligheidsmaatskappy loop op 2 April buite die Ou Meulhuis in Blakestraat in die Paarl. Hulle is elkeen gewapen met ’n haelgeweer.Foto: Verskaf

Volgens sy ma het sy vertroulik verneem die twee wagte sou glo daardie oggend deur ’n individu by die munisipaliteit na die huis gestuur word.

“Die persoon se naam is blykbaar Theresa.

“Sy het instruksie gegee dat die wagte met gewere tot by ons kom om ons af te skrik en bang te maak sodat ons vinniger uit die huis uit kan trek.

“Ek het so groot geskrik toe my oudste seun my bel.

“Ek het die stemme gehoor terwyl ek met hom op die foon was en kon hoor hoe die kinders in die agtergrond huil. Hulle het ook foto’s van my kinders geneem,” het die ma vertel.

Muizudeen het gesê die gesin het nie ’n beswaar daarteen om uit die huis te trek nie, maar het benadruk dat die munisipaliteit nog nie kon verseker dat hulle van waardige alternatiewe behuising voorsien sal word nie.

Keagen Gertse, hoofsweep van die GOOD-party in Drakenstein, het die betrokke veiligheidsmaatskappy se beweerde gedrag ten sterkste veroordeel.

“Private veiligheids-maatskappye het nie polisiëringsmagte om ’n klagte te ondersoek of om toegang tot ’n eiendom te verkry sonder toestemming of ’n lasbrief nie. Hulle is ook nie gemagtig om ’n vuurwapen op enigiemand te rig nie.

“Indien hierdie individue wel op die instruksie van die munisipaliteit opgetree het, het die munisipaliteit geheel en al buite sy bestek opgetree.

“Dit beteken ons het effektief te doen met ’n bedrieglike instelling wat private veiligheidsmagte bymekaarmaak wat bereid is om die wet te oortree,” het Gertse gesê.

Hy sê GOOD het die familie gehelp om ’n strafregtelike klag teen die sekuriteitspersoneel aanhangig te maak vir die betreding van die eiendomme sonder toestemming, intimidasie, die onwettige rig van ’n vuurwapen en crimen injuria.

“Indien Drakenstein se betrokkenheid regdeur hierdie ondersoek bewys word, sal GOOD formeel versoek dat verdere stappe teen enige betrokke munisipale werknemers geneem word. GOOD sal alles in sy vermoë doen in ons strewe na geregtigheid en in die uitoefening van ons plig om kwesbare gemeenskappe te beskerm.”

Volgens Gertse het die munisipaliteit sy uitsettingsbevel van 16 Februarie met ses maande aangeskuif nadat die munisipaliteit glo ’n ooreenkoms met die gesin aangegaan het.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article