Met sy 26-lopie-oorwinning oor die Paarl-krieketklub (KK) op die Parysveld verlede Saterdag het Bergrivier KK (16 punte) sy kanse versterk om relegasie uit die Premierligakompetisie van Boland Krieket te vermy.

Bergrivier se laaste wedstryd is Saterdag tuis teen Worcester United (19 punte), wat nog ’n taai wedstryd teen die Victoriane moet speel.

Stellenbosch KK (15 punte) is in die laaste posisie, en kan nog ’n opdraande stryd teen Vredenburg-Saldanha, Maties en die Victoriane te wagte wees.

Indien Bergrivier Saterdag teen Worcester United wen, is sy kanse goed om weer volgende seisoen deel van die Premierliga te wees.

Sy puik vertoning verlede Saterdag was te danke aan goeie kolfbeurte deur die linkshandige Leighton Peterson (71, 6×4, 4×6), Morne De Vries (49, 4×4, 1×6) en Conroy Baron (27, 4×4, 1×6).

Die derde-paaltjie-vennootskap van 75 deur De Vries en Peterson het Paarl oorrompel, ten spyte van die boulsuksesse van die draaiers Waylain September (10-1-49-3), Herschelle Poggenpoel (10-0-42-2) en Henrico Albertus (4-0-27-2).

Bergrivier se teiken was 203 in 50 boulbeurte, maar die tuisspan kon slegs 175 haal.

Paarl se Darryl Hendricks (63, 9×4, 2×6) was die enigste kolwer wat die oog gevang het, hoewel Jaden Adams (19) hard teruggeveg het. Die derde-paaltjie-vennootskap van 57 lopies tussen Hendricks en Poggenpoel was Paarl se beste. Rafiek Moerat (9-0-49-4) se vaart was te veel vir Paarl.

Op die Parys C-veld het Paarl II (243) met 57 lopies teen Bergrivier II gewen, danksy ’n puik 66 lopies van die aanvangskolwer Jaywin Solomons. Die besoekers is vir 186uitgeboul.

Saterdag bots Paarl en Paarl-Oos by New Orleans in ’n derbywedstryd, terwyl die tweede spanne op die Parysveld speel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article