Wie sou kon dink dat die visie van twee groot onderwysmanne, mnre. M. Friedling en J. Abrahamse, kon lei tot die opening van ’n instelling van uitnemendheid in Wellington? Dis nou 75 jaar later, en hier staan Bergrivier Sekondêr steeds. Ons bring hulde aan hierdie twee manne wat in 1928 die behoefte aan ’n sekondêre skool in Wellington raakgesien en die visie 20 jaar later tot stand gebring het.
Dankie aan die WKOD vir die rol wat hy vervul en ook vir die ondersteuning aan die skool. Die skool het oor die jare prinsipale van formaat gehad. Hulle het uitstekende leierseienskappe opgelewer, nl. mnre. M. Friedling, W. Arendse, M. Meyer, J. de Villiers, L. Jacobs, L. Davids en G. Julies. Hierdie manne het die fondasie gelê en ons skool as ’n baken van akademiese uitnemendheid in die gemeenskap gevestig. Hulle het die taak van die huidige prinsipaal baie maklik gemaak. Die skool bedank al die voormalige prinsipale vir die uitwerking wat hulle op die skool gehad het.
Aan al die vorige opvoeders van die skool – baie dankie vir die rol wat julle vir die skool en in ons leerders se lewe vervul het. Dit word hoog waardeer. Aan die huidige opvoeders – baie dankie vir die huidige rol wat u vandag vir die skool en in ons leerders se lewe speel. Wees verseker dat julle ’n groot en blywende rol in die leerders se lewe vervul het en steeds vandag daardie rol vertolk. Dit word opreg waardeer.
Ons bring ook hulde aan al die opvoeders, oud-prinsipale en oud- leerders wat nie meer vandag met ons is nie en erken die rol wat hulle gespeel het. Aan al die lede van die vorige skoolkomitees en SBL – dankie ook vir die rol wat julle vertolk het.
Dankie dat julle altyd die visie deel om ons skool te beheer en vorentoe te neem. Dan vir die ouers van BR – jul betrokkendheid by die skool spreek boekdele. Die klem val op dié ouers wat altyd betrokke is, want almal was en is nie betrokke nie. Die opvoedingproses is ’n driehoek, naamlik opvoeders, ouers en leerders. Ons en u kind het u ondersteuning baie nodig. U móét eienaarskap van die skool neem.
Aan BR se alumni – baie dankie vir wat julle vir die skool beteken.
Ons wil ook dankie sê vir die rol van kerke en ander organisasies.
Ons kan nie vergeet van ons buurskole nie – baie dankie vir die ondersteuning en samewerking oor die jare. Ons dien dieselfde skoolgemeenskap en ons ervaar dieselfde probleme en uitdagings. Ons moet vorentoe saamwerk in belang van ons gemeenskap.
Om af te sluit: Sterkte vir 2024 se derby. Julle almal maak ons skool baie trots. Bergrivier my trots en die weg na sukses!




