bergrivier tot oorlopens toe vol in hitteFoto:


Honderde mense het Saterdag en Sondag op die oewers van die Bergrivier naby die Arboretum toegesak om lafenis in die rivier te soek toe die jaar se warmste dae op die vallei neergedaal het.

Maar weereens is die gebied asook die oewer by Westhovenstraat byna soos ’n oorlogsone agtergelaat met ’n see van rommel soos leë drank- en koeldrankbottels, gebruikte babadoeke, plastiekhouers, papiere en selfs gebruikte kondome.

Hoewel swem hier streng verbode is en talle mense al hier verdrink het, is geen beheer oor die skare uitgeoefen nie en het talle mense het in die rivier baljaar.

Letterlik honderde mense het op die rivier toegesak en talle munisipale regulasies is openlik oortree.

Hoewel munisipale werkers Maandagoggend vroeg reeds aan die werk gespring het om opruimingswerk te doen, was die rivier besoedel met rommel – veral plastiek. Talle blou munisipale vullissakke vol gemors wat agtergelaat is, was later die oggend steeds langs die Boulevard te sien.

Die groot vraag ook is – waar was die ablusiegeriewe wat voorheen deur die Drakenstein-munisipaliteit aangebring is?

Daar is ook diegene op sulke dae wat onuitstaanbare harde musiek tot laataand uit hul motors speel.

Die laaste paar jaar het die Drakenstein-munisipaliteit probeer om hierdie probleme op te los deur wetstoepassers en veiligheidspersoneel in die gebied te ontplooi om reg en orde af te dwing, en draagbare toilette is vir die publiek opgerig. Maar vanjaar was daar geen teken van enige van hierdie maatreëls nie, en die skares het weer by die rivier byeengekom.

Paarl Post het reeds sedert Saterdagmiddag talle klagtes oor mense se wangedrag by die rivier ontvang.

Gerald Esau, direkteur van gemeenskapsdienste by die munisipaliteit, het gesê die munisipaliteit het voorheen soortgelyke situasies baie goed hanteer.

“Ons wetstoepassers het Saterdag en Sondag die rivieroewers gepatrolleer en veral by probleemareas rondbeweeg en die gevare van swem en onwettige aktiwiteite verduidelik aan diegene wat in die rivier wou afkoel – veral met die munisipale swembaddens in die Drakenstein wat oral vol was en teen die middae volle kapasiteit bereik het. Weens Covid-19-regulasies kon die swembaddens ook net teen die helfte van hul normale kapasiteit werk.”

Esau sê die meeste mense op die rivieroewers het die wetstoepassers se instruksies gehoorsaam terwyl baie ander die gebied verlaat het.

“Ons vredesbeamptes is ook ingeroep om versterking te verskaf en die situasie te help bedwing. ’n Veiligheidskiosk met wetstoepassers aan diens is langs die Bergrivier-boulevard opgerig sodat lede van die publiek enige voorvalle onmiddellik kon aanmeld.”

Esau het ook gesê as deel van die Drakenstein Slim-veiligheidsnetwerk (DSSN) staan ??die munisipaliteit se veiligheidsvennote – soos die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en buurtwagte binne Drakenstein – hulle oor naweke by om uitdagings op die rivieroewers en ander algemene onwettige aktiwiteite in oop ruimtes te help hanteer.

“Die munisipaliteit het ook meer wetstoepassers en vredesbeamptes ontplooi om groter sigbaarheid te verseker en om enige onwettige aktiwiteite te beperk.

“Bykomende veiligheidsbeamptes is op albei naweeksdae suksesvol by die munisipale swembaddens en ons oorde ontplooi om moontlike wanordelike besoekers te hanteer en ook om oorbesetting te keer.

“Waar probleme wel ontstaan ??het, het wetstoepassers gehelp om die vrede te probeer handhaaf en te verseker dat almal veilig is.

“Veiligheidsbeamptes sal by die swembaddens en oorde aanbly om streng nakoming van die perseel se reëls te verseker,” het Esau afgesluit.

Esau se weergawe van sake stem egter nie ooreen met diegene wat in die direkte omgewing van die rivier by die Bergrivier-boulevard woon nie.

’n Woordvoerder van die Vrykyk-buurtwag het gesê die stand van sake oor die loop van die naweek was absoluut afskuwelik.

“Dit is wonderlik dat mense die buitelug geniet, maar ons veroordeel sulke wettelose gedrag soos openbare dronkenskap, rommelstrooi, kru verbale taal en ander wangedrag in die teenwoordigheid van kinders, sowel as erge rusverstoring tot laat in die aand, soos dit Saterdag weer die geval was.”

Hy het ook gesê volgens die buurtwag was geen wetstoepassers in die gebied te sien nie.

“Ons eis nou antwoorde van die munisipaliteit oor wat hulle gaan doen om hierdie stand van sake te beheer.”

Hy is ook gevra oor toiletgeriewe, maar Esau het nie hierop geantwoord nie.

*Residents of Paarl, especially in the vicinity of the Berg River Boulevard, are once again disappointed at the municipality’s inability to reprimand serious offenders of by-laws on the banks of the Berg River at the weekend.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article