’n Huisgesin in Argyl-straat in die Berg-en-Dal-buurt in Wellington is Vrydagoggend (24 Mei) deur rowers in hul huis aangehou toe vier mense hulle vroeg die oggend in hul slaapkamers oorval het.
Volgens kol. Johan Barkhuizen, bevelvoerder van die Wellington-polisie, wat die voorval bevestig het, het die rowers om middernag op die huis toegesak, waarna die inwoners “wakkergeskrik en gesien [het dat die] verdagtes in [hul] huis [is]”.
Volgens ingeligtes is die modus operandi tydens dié voorval vergelykbaar met dié van die Klapmus-bende of te wel die Balaclava-gang.
Barkhuizen het egter dié stelling ontken en gesê dat die Wellington-polisie nie bewus is van aktiwiteite wat verbind kan word met dié bende nie.
Tydens die rooftog by die huis in Berg-en-Dal het Barkhuizen bevestig ’n televisieskerm, selfone, skootrekenaars, beddegoed en klere is gesteel.
Die rowers is ook weg met die gesin se Ford Ranger-voertuig. Dit is later op die R312 – ’n pad tussen Wellington en Durbanville – gevind, sê die gesin, wat nie hul name genoem wil hê nie.
Die voertuig is deur middel van ’n opspoortoestel, wat in die bakkie geïnstalleer is, opgespoor, het die gesin verduidelik.
Die gesin het ook bevestig die rowers het aangedring op verskeie bankkaarte, waarvan hulle die pinnommers verkry en ’n onbekende hoeveelheid geld getrek het.
“Hulle [die rowers] was hier [in die huis] van middernag tot vieruur en het ons in aparte kamers vasgebind,” het een gesinslid vertel.
Volgens hulle was die man saam met een minderjarige seun in een kamer vasgebind, terwyl die vrou in ’n afsonderlike kamer saam met hul ander minderjarige seun vasgebind is.
Die seuns se ouderdomme is onderskeidelik vier en sewe.
“Hulle [die rowers] het toegelaat dat my man met die [een] seuntjie speel en hom losgemaak nadat hy te woelig geraak het.”
Die gesin voer aan die voorval is beplan deur iemand wat hulle tydelik aangestel het om saam met hul permanente werknemers werk by hul huis te verrig. Volgens hulle het die werker geweet hoe die huis se uitleg en veiligheidstelsel lyk.
Nadat die rowers weg is, het die man daarin geslaag om homself los te kry, waarna hy hulp ontbied het.
Volgens Barkhuizen is niemand in die voorval beseer nie, en niemand is nog in hegtenis geneem nie.
Die Klapmus-bende het sedert die vroeë 2000’s berugtheid in die Boland verwerf weens lede wat hoofsaaklik bestaan uit mense uit die noorde van Namibië, bekend as die Ovambo’s, volgens ’n bron.
Baie van dié Namibiërs is oud-lede van die Koevoet-teen-insurgensietak van die destydse Suidwes-Afrikaanse polisie (SWAPOL), en het militêre opleiding tydens die Suid-Afrikaanse grensoorlog ontvang.
Weens dié militêre opleiding is die bende noukeurig met hul rooftogte, en ontduik hulle dikwels die polisie wanneer hulle weens ’n gebrek aan bewyse vrygelaat word.
Vorige voorvalle in die Drakenstein wat vergelykbaar is met dié van die Berg-en-Dal-voorval, sluit in:
- Melanie en Ludwig Uys se plaas buite Wellington, waar hulle in 2018 deur vyf gewapende mans met klapmusse aangeval en beroof is.
- Die wynmaker Charles Back van Fairview is in Februarie 2018 deur drie gewapende mans wreed aangeval en vir dood gelaat.
- Mary-Lou Nash van Renosterkop-plaas in die Agter-Paarl is in Julie 2022 deur vier gewapende mans oorval en vasgebind waar talle waardevolle items en geld gesteel is.
- n Rooftog op ’n plaas in Bovlei buite Wellington in April vanjaar waar vyf gewapende mans ’n hoeveelheid geld en elektroniese toestelle gesteel en die huisgesin aangehou het.





