’n Berugte bendelid van Muizenberg is in 2019 in die Paarl vasgetrek.


’n Bendelid, verbonde aan die Paarl, en twee van sy makkers is verlede week jare lange tronkstraf opgelê vir hul betrokkenheid by misdaad in Muizenberg in Kaapstad.

Lt.kol Malcolm Pojie, ’n woordvoerder vir die Wes-Kaapse polisie, sê die beskuldigdes – Jamiel Jacobs, Simone Gordon en Dillon Walker – is sleutelfigure verbonde aan die Flakka-bende, wat die gemeenskap van Muizenberg al ’n geruime tyd sedert 2019 terroriseer.

Volgens Pojie het hierdie drie die gebied met bendeverwante aktiwiteite ontwrig en ernstige en gewelddadige misdaad gepleeg.

“Gedurende 2019 het speurders verbonde aan die teen-bende-eenheid ’n groot ondersoek van stapel gestuur waarby die Flakka-bende en Jamiel Jacobs, ook bekend as Charra, betrokke was. Jacobs is as die hooffiguur van hierdie misdaadentiteit beskou.”

“Die ondersoek het gepoog om die voortdurende bendegeweld in die destydse Muizenberg-gebied te stuit.

Hierdie bendegroep (Flakka) was gewelddadig van aard en het verskeie mededingende bendelede lukraak geskiet en vermoor. Hulle het ook handel gedryf in goedere soos dwelms en vuurwapens.
Malcolm Pojie

“Hierdie bendegroep (Flakka) was gewelddadig van aard en het verskeie mededingende bendelede lukraak geskiet en vermoor. Hulle het ook handel gedryf in goedere soos dwelms en vuurwapens.”

Tydens 2019 het die speurders van die teen-bende-eenheid Jacobs in ’n veiligheidskompleks in die Paarl opgespoor, waar hy vir ’n tydjie weggekruip het.

Pojie voeg by dat Jacobs, Gordon en Walker verlede Vrydag (12 April) in die hooggeregshof in Kaapstad gevonnis is.

Jacobs is altesaam 71 jaar tronkstraf opgelê vir verskeie sake wat insluit moord, poging tot moord en die onwettige besit van ’n vuurwapen. Hy het ook afsonderlik twee lewenslange vonnisse gekry vir moord en poging tot moord.

Gordon is tot 15 jaar gevonnis vir dwelmhandel en Walker het 10 jaar gekry – ook vir dwelmhandel.

Pojie sê die provinsiale polisiekommissaris, lt.genl. Thembisile Patekile, het niks anders as lof gehad vir die ywer en toewyding van die ondersoekbeampte en diegene wat hom gehelp het om hierdie sleutelfigure in die bendewêreld aan die kaak te stel nie.

“Hy het die hoop uitgespreek dat die lang vonnis wat Jacobs opgelê is, as ’n afskrikmiddel sal dien vir misdadigers wat by bendebedrywighede in dié provinsie betrokke is.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article