Die naam André Smith is die afgelope jaar bekend as rubriekskrywer in verskeie publikasies van Media24.
Hierdie kaalvoet-plaasklong het letterlik nuwe betekenis gegee aan “die pen is magtiger as die swaard” deur sy pad oop te skryf ten spyte van heelwat redakteurs wat aan die begin sy werk as kranige skrywer geïgnoreer het omdat Smith ’n onbekende stem in die donker was.
Sy gereelde rubrieke word goed ontvang deur lesers en bied as blaaskans ’n leesstuk tussen berigte soos misdaad, korrupsie en die viruspandemie. Maande se werk aan sy debuutbundel, My Sandveldbos, is nou beskikbaar bestaande uit kontreisketse waarin Smith ons ’n kort blik van sy komvandaan gee.
Hy vertel: “Ek is die tweede jongste kind van Dirk en Dina Smith. My komvandaan is die klein dorpie Redelinghuys in die hartjie van die Sandveld. As jong seun was ek versot daarop om in die veld, tussen bossies en in die koppies, te gaan stap. Hier kon ek vry wees en droom oor ‘eendag’. Dis hierdie einste droom oor eendag wat die lewe geskenk het aan hierdie debuutbundel kontreisketse en rubrieke van my. Wat ’n voorreg!
“Ek’s al langer as 20 jaar betrokke by die ontwikkeling/ontginning van ons kinders en jeug se inherente potensiaal by verskillende organisasies en instansies in Suid-Afrika asook oorsee. Ek het my tersiêre opleiding aan die Hugenote-kollege in Wellington voltooi. Naas my voetspoor wat ek plaaslik in die harte van kinders en jongmense laat, het my passie en liefde vir my werk en roeping my ook al na die VSA, Suid-Korea, Namibië en Stockholm (Swede) geneem.
“Ek beskou myself as iemand met ’n opregte omgeehart vir kinders en jongmense, maar ook vir mense in die algemeen. Ek het in die eerste vier dekades van my lewe letterlik alles vir my beroepslewe gegee, maar met die aanbreek van die Covid-19-pandemie kon ek uiteindelik weer my tyd en aandag aan skryf bestee, wat ’n liefde en passie is wat ek vir jare vanweë my werksverpligtinge moes onderdruk.
“Ek skryf tans rubrieke vir ’n paar streekkoerante van Media24 en is ook die ankerskrywer en Wes-Kaapse korrespondent vir Horison Media se aanlyn tydskrif.
“My Sandveldbos, my debuutbundel, bevat kontreisketse waarin ek my liefde vir my mense van die klein dorpie Redelinghuys in die Sandveld/Weskus vier. Hierin gee ek erkenning aan die “unsung heroes” in my lewe – die mense van my streek wat so ’n wesenlike impak op my vorming as mens gehad het, en steeds het.
“My kontreisketse sowel as rubrieke, glo ek, sal die leser laat lag, soms laat wonder, dan weer terugneem na tye en plekke van mooi herinneringe. Op ’n deernisvolle wyse wil ek jou, die leser, deel maak van die mense, plekke, name en stories wat eie is aan die Sandveld en Weskus. My sketse en rubrieke het ook ’n universele aanslag. Of jy ook van ’n klein plattelandse dorpie af kom en of jy tans in die stad woon, sal jy iets in my boek raaklees wat jou daai oom of antie sal laat onthou. Jy sal ook die name, byname, plekke, oomblikke en dinge wat jou met ’n nuwe stuk waardering en liefde vir jou komvandaan sal laat, onthou.
“Mag jy groot genot uit hierdie kosbare geskenk aan my Sandveld en Weskus-mense put,” sluit hy af.
My Sandveldbos kan regstreeks by André bestel word. Kontak hom by 083 308 9165 of arniesmith@gmail.com,
Die bundel is in hardeband of sagteband beskikbaar.





