Newton moes die knie buig teen ’n begeesterde Bella Vista-span, wat net nie bes wou gee nie, in wat ’n baie gelykop dog senutergende stryd was.
Bella, die Boland- naaswenners van 2023, het probeer om Newton met sy sterk skrums en rolmaal- bewegings te intimideer, maar dié plan het nie gewerk nie.
Hier het die vaste vyf van Newton met die groot slot Matthew Andrews aan die voorpunt vuur met vuur beantwoord en hul teenstanders behoorlik met klipharde verdediging in die grond in geboor.
Bella het met ’n strafdoel eerste punte aangeteken en net voor rustyd oorgegaan vir ’n drie – rustydtelling 8-0.
Net ná rustyd het Bella Vista weer toegeslaan en die telling was skielik 13-0.
Newton het egter sy terugvegpoging begin nadat Shane-Cole Williams en Ryan Jordaan pragtig hanteer het om die drieëvraat Keaton Booysen vir ’n skitter-drie weg te stuur.
Net hierna het Gary Williams oorgegaan vir ’n drie ná volgehoue druk deur Newton.
Die telling was skielik 13-12 en die spanning was duidelik sigbaar, maar Newton kon net nie die knoop deurhak nie. Voorlangs het die Newton-agttal geskitter in die vastelos en hul opponente keer op keer agter die voordeellyn vasgepen.
Daar was ’n paar omstrede beslissings, met die spelers wat weer eens hul ondersteuners blou geverf het met hul klubklere en hulle met gelukkige harte huis toe gestuur het.. Hierdie naweek is dit weer ’n Wellington-derby teen Young Blues en vuurwerk word verwag in Newton se laaste tuiswedstryd.




