Die bekende sendeling, motiveringspreker en ondersteuner aan ouers wat kinders aan die dood afgestaan het, gaan Sondag 4 Junie by Compassionate Friends in Wellington besoek aflê.

Myrtle Fleming, wat in Khartoem. die Soedan, van Skotse sendeling-ouers gebore is, se droom was later om self as sendeling na behoeftiges in Afrika terug te keer.

Maar dit was eers met die dood van haar 21-jarige seun dertig jaar gelede dat sy besef het dat haar lewe se doel en missie in die diepste, donkerste plekke van mense se gebroke harte sou wees.

Sy het sedertdien baie gereis, met derduisende bedroefde ouers ontmoet en met baie ander gesels, asook met baie mense wat geliefdes verloor het, hetsy eggenote, familielede of hul vriende.

Dit het sy gedoen uit haar begrip en deernis en in herinnering aan haar seun, wetende dat sy op een of ander klein manier ’n mate van vertroosting gebring het aangesien sy vertroosting gegee is in die vroeë dae van haar hartseer.

Die Drakenstein-tak van Compassionate Friends, ’n internasionale organisasie wat ondersteuning bied aan bedroefde ouers, hou Sondag 4 Junie ’n Ope Dag waartydens Fleming aan die woord sal wees.

Die dag begin om 14:00 by die Bejaardesorg Sentrum in Wellington, oorkant die verkeersafdeling.

Vir meer inligting oor die Compassionate Friends, hul Opedag, asook beplanning rondom volgende jaar se nasionale byeenkoms in Drakenstein, kontak Mauleen Steenkamp by 061 841 5020 of stuur e-pos aan wellingtontcf@gmail.com

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article