GOUDA – Die gesamentlike Operasionele Sentrum (JOC), onder leiding van die Departement van Landbou se Veeartsenydiens en met ondersteuning van Agri Wes-Kaap (AWK), het bevestig dat daar steeds in die Gouda-gebied slegs een plaas positief is vir bek-en-klouseer (BK).
BK in die streek is geïdentifiseer nadat ’n boer in die Vrystaat op 1 November vanjaar letsels op sy beeste opgemerk het wat van ’n plaas naby Gouda afkomstig was. Hierdie bevinding het ’n ondersoek deur die Wes-Kaapse Departement van Landbou ontketen, wat bevestig het dat die Gouda-plaas wel met BK besmet is. Die betrokke plaas is onder streng kwarantyn geplaas, en verdere opsporing het gelei tot kwarantyn op plase in Velddrif en Bredasdorp, nadat dit vasgestel is dat vee tussen hierdie plase en Gouda verskuif is.
Die AWK het onlangs in ‘n verklaring gesê dat die provinsiale verkeersbeamptes die afgelope naweek ’n vragmotor met skape in die Wes-Kaap gestop het, waarna die voorval deur veediefstaleenhede opgevolg is.

Daar was ook 13 voertuie en 22 polisielede wat die gebied gepatrolleer het met geen verdagte bewegings wat aangemeld was nie.
Intussen het veeartse 60 skape op die besmette plaas buite Gouda getoets en uitslae word nog verwag. Die vee toon verbetering en geen nuwe letsels is sedert 14 November opgemerk nie.
’n Totaal van 28 plase in die kwarantyngebied is vir verdere ondersoeke geïdentifiseer. Die plaas in Veldrif wat ook onder kwarantyn was, het intussen negatiewe toetsresultate ontvang.
LEES OOK: Foot-and-Mouth Disease case confirmed near Gouda, two more farms quarantined
Vee-vervoerders word herinner om die nodige dokumentasie by hulle te hê, insluitend eienaarsverklarings, ontvangerverklarings vir vee en sertifikate ingevolge afdelings 6 en 8 van die Veediefstalwet. Produsente word versoek om hul biosekuriteitsmaatreëls te versterk en alle beweging van diere in of uit die kwarantyngebied aan te meld via die departement se aanlyn vraelys, luidens AWK se verklaring.
Daaglikse ontsmetting vind plaas, met F10 wat gebruik word om voertuie en toerusting te skoon te maak. Enige voertuig, klere of toerusting wat die gebied betree of verlaat, moet deeglik ontsmet word. AWK en die Rooivleisprodusente-organisasie Wes-Kaap (RPOWK) doen ’n ernstige beroep op veeboere om streng biosekuriteit op hul plase toe te pas en alle amptelike protokolle na te kom.






You must be logged in to post a comment.