Illustrasie foto.


Nóg ’n huisrooftog – hierdie keer in ’n gesogte gebied in die Paarl – het Donderdag 11 Julie helder oordag plaasgevind toe ’n bejaarde vrou in die middedorp deur ’n man in ’n pienk kamerjas oorval, aangehou en beroof is.

Volgens kapt. Louise du Plessis, ’n woordvoerder vir die Paarl-polisie, het die voorval om 13:00 plaasgevind.

Dit het in die omgewing van Enslinstraat plaasgevind toe ’n jong man, vermoedelik iets in die twintig, toegang tot ’n huis gekry het deur oor ’n muur te spring.

Volgens die inwoners, wat op voorwaarde van anonimiteit met Paarl Post gesels het, het die rower oor hul bure se buitemuur gespring, waarna hy oor hul muur, wat aan hul bure se perseel grens – geklouter het.

Voetspore op die grond én teen die mure wat deur die polisie opgespoor is, het dit bevestig, volgens die inwoners.

“Ek het om 12:30 Kaap Agri toe gery, en toe iets gaan koop om te eet, en is toe terug huis toe,” volgens een van die huisinwoners.

Volgens hom het hy met sy aankoms by die huis ’n paar happe soesji geëet, waarna hy na sy vrou in hul slaapkamer gaan soek het wat ’n middagslapie sou geniet het terwyl hy in die dorp was.

“Die klaer [huisinwoner] het ’n middagslapie geneem toe sy wakker geword het met ’n onbekende man in ’n pienk kamerjas in die slaapkamer,” volgens Du Plessis.

Haar man het haar toe op die grond aangetref, waar albei haar hande en voete vasgebind was.

“Toe hy [die rower] agterkom dat die klaer wakker geword het, het die verdagte die klaer gedreig en haar hande met skoenveters vasgebind,” het Du Plesssis bevestig.

Die man se vrou het toe vir hom gesê dat die rower steeds in die huis is, waarna hy na sy kantoor gestap en gesien het dat die rower deur die venster en toe oor die muur gespring het omdat hy waarskynlik gehoor het dat nog huismense terug is.

By verdere ondersoek het die inwoners agtergekom dat hul twee skootrekenaars en ’n skootrekenaarsak gesteel is. Volgens Du Plessis is die rower weg met elektroniese toestelle ter waarde van R44 000.

LEES OOK: Paarlse huisgesin helder oordag deur ‘munisipale werkers’ beroof

Volgens die vrou, wat gedurende die rooftog vasgebind is, het die rower ’n nagemaakte pistool op haar gerig, maar sy kon sien dis ’n “speelding”.

Sy het daarna vir die rower gesê “toe kom, skiet my, skiet my!” waarna sy hom teen sy bors geskop het.

Hiérna het die rower, wat ’n klapmus gedra het, haar met skoenveters vasgebind.

Die bejaarde egpaar woon reeds 40 jaar in die huis en hierdie voorval is die tweede rooftog wat hulle in die huis beleef het.

Die vorige een het “jare gelede” plaasgevind.

LEES OOK: Nóg ’n huisgesin in Wellington in die middel van die nag beroof

Volgens die man was hierdie ’n geïsoleerde geval en is hulle nie bewus van enige ander inbrake in die gebied nie.

Die bejaarde egpaar het verduidelik dat huiswerkers asook tuindienste die vermeende verdagte gereeld in die nabye strate sien waar hy deur die buurt loop en “maak asof hy mal is”, maar nie regtig is nie.

Die huisinwoners voer aan hulle glo die voorval is vooraf beplan omdat die rower die uitleg van die huis moes ken om te weet waar hy kon inkom én weer uitglip.

Geen beserings is aangemeld nie, en die voorval word ondersoek, het Du Plessis gesê.

Enigiemand met inligting kan die Paarl-polisie by 079 894 1706 of 079 893 9860 kontak.

Hierdie voorval is die vyfde inbraak wat sedert April vanjaar binne die Drakenstein aangemeld is en waar rowers dit haarfyn beplan en in drie van die vyf gevalle die huismense aangehou het.

LEES OOK: Berg-en-Dal-gesin beroof, sprake van Klapmus-bende se doen en late

Drie vorige voorvalle het in Wellington plaasgevind, met die mees onlangse een op 7 Julie, terwyl ’n gesin wat in ’n woonstelblok in die Paarl ’n klipgooi van die Paarl-polisiekantoor woon, ook op 8 Julie beroof is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article