David Muller (61) van Paarl-Oos is sedert Woensdag (29?Maart) as vermis aangemeld.

Foto: Verskaf

’n Wye soektog is Saterdagoggend deur owerhede in Paarl van stapel gestuur nadat ’n 61-jarige man David Muller Woensdagoggend (29 Maart) onder raaiselagtige omstandighede vermis geraak het. 

Die voorsitter van Paarl-Oos se gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), Raymond Fransman, het aan Paarl Post bevestig dat Muller as vermis aangemeld is en dat die GPF tans die familie in hul soektog ondersteun.

“Hy was Woensdagoggend laas deur sy familie by die huis gesien. Hy het nog vir sy vrou vertel dat hy die oggend na Sonstraal (in Klein Drakenstein) onderweg is. Sedertdien het sy familie nog geen teken van hom gesien nie,” vertel Fransman.

Muller se foto en besonderhede was Saterdagoggend ook op die Drakenstein-plaaswag (DFW) se WhatsApp-groep gedeel.

“Hy is ongeveer 1,6 m lank en het bruin oë. Die pak kleure waarin hy laas gesien was, is ’n swart broek, swart top en ’n paar blou tekkies,” het die bevelvoerder van die plaaswag, Daan van Leeuwen Boomkamp, bevestig.

Muller was na bewering Donderdag op die Keerweder-pad in Klein Drakenstein deur ’n DFW-lid op patrollie gewaar.

Enigiemand met inligting oor Muller word versoek om die Paarl-Oos-polisie op 021 877 5900 of GPF-voorsitter Fransman op 069 183 4305 te skakel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article