Is dit regtig oukei?

Vrydagoggend 10:30 laai ek my ma by binnelandse sake af. Sy is 76 jaar oud (maar dalk lyk sy dit nie).

By my terugkeer twee ure later het die ry om die hoek van die gebou skaars beweeg.

Tussendeur staan ek omtrent twee ure in haar plek, sodat sy kan bene rek en iets kan gaan eet.

Ek gaan vra twee keer vir die sekuriteitswagte of ouer mense nie dalk vinniger gehelp mag word nie, of minstens kan inkom.

Nee, sê een sekuriteitswag.

Die ander sekuriteitswag bied darem ’n wit stoel aan waarop sy kan sit – tot 16:30 in die middag, toe sy uiteindelik vir die eerste keer in die gebou self toegelaat word.

Toe eers kon sy bedien word. (En net terloops, dit was die vinniger deel van die dag – ’n driekwartier.) Maar nietemin sewe ure nadat sy in die ry gaan staan het.

Op enige tyd op hierdie Vrydag was daar ’n ry mense buite om die gebou se hoek, wagtend in die son, ’n ry wat soms vir ’n uur nie eens beweeg het nie. Almal mense wagtend op ’n sitplek binne-in die gebou wat, elke keer as ek gaan loer het, maar yl bevolk was. Dit ten spyte van wat die huidige Covid-regulasies sê oor die hoeveelheid mense wat in geboue toegelaat word.

Is dit regtig oukei dat ouer mense so behandel word? Is dit regtig oukei dat enige Suid-Afrikaner so behandel moet word? Ure in die son en wind. Maar stampvol malls wordtoegelaat?

Dis dalk tyd dat binnelandse sake begin om minstens stoele vir hul besoekers buite te sit sodat hulle darem met ’n mate van respek kan sit en wag op diens. Want ná twee jaar van Covid (en selfs voor dit) moes die personeel seker al agtergekom het hul kliënte (!) staan in lang rye buite die gebou waarin hulle mense net stuk-stuk toelaat.

Asdromme rondom die gebou en naby die voordeur, veral vir die rokers, sal ook fantasties wees. Want om so vir ure te staan en wag tussen ’n klomp stompies en rommel maak die hele proses selfs meer neerdruk­kend.


Stoelloos,

Wellington

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article