Met Drakenstein wat al hoe meer uitbrei en nog meer mense wat van elders hierheen trek op soek na werksgeleenthede, bly die behuisingsnood hier ’n knellende faktor.
In dié gebied is daar tans 21 000 “aktiewe” aansoekers op die behuisingswaglys, sowel as 15 000 “passiewe” aansoekers (dit wil sê mense wat nie hul besonderhede gereeld by die munisipaliteit kom opdateer nie).
Drakenstein Munisipaliteit (DM) wys wel daarop dat behuising ’n nasionale en provinsiale bevoegdheid bly.
Nasionale behuisingswetgewing skryf wel voor dat ’n munisipaliteit hierdie funksie moet uitvoer namens die nasionale regering met finansiële bystand van die nasionale fiskus.
Jacqui Samson, direkteur van beplanning en ontwikkeling by die DM, se die munisipaliteit se teiken vir vanjaar is om 216 nuwe behuisingsgeleenthede te skep. Dit sluit onder meer in projekte in Vlakkeland en Fairyland, asook die diens van 175 erwe te Schoongezicht.
Sy sê die opgradering van dienste ten einde die nodige infrastruktuur-kapasiteit daar te stel, is aaneenlopend. Die uitgawes word jaarliks begroot en aangedui in die jaarlikse begroting.
Weens al hoe meer ontwikkelings in die gebied is oor die afgelope sewe jaar meer as R1 miljard op water- en riool-infrastruktuur in Drakenstein uitgegee, insluitend op water- en rioolsuiweringswerke. Daar word verder beplan om ’n bedrag van R1,4 miljard oor die volgende drie jaar op die opgradering van die rioolsuiweringswerke Paarl asook die uitbreiding van die hoofrioolstelsel suid van die nasionale pad (N1) uit te gee.
“In hierdie stadium vorder bouwerk fluks by die Mountain Ridge Estate-ontwikkeling wat deur ASLA Construction ontwikkel word. ’n Gedeelte van hierdie terrein is ook beskikbaar gestel vir die ontwikkeling van 362 maatskaplikebehuisingsgeleenthede en beplanning is redelik ver gevorder. Implementering deur die ontwikkelaar behoort vanjaar te geskied,” sê Samson.
As deel van die Vlakkeland-projek word geleenthede ook geskep vir die middel-inkomstebehuising (GAP)-mark. In hierdie verband is 187 erwe reeds gediens en is die proses aan die gang om die beplanning en ontwerp van huise, sowel as van die moontlike begunstigdes vir hierdie projek, te identifiseer.
Verder ondersoek die munisipaliteit ook geskikte grond ten einde verdere projekte uit te rol. Die nasionale behuisingsbeleid maak tans voorsiening vir verskillende behuisingsprogramme wat mense teiken met ’n maandelikse huishoudelike inkomste onder R22 000. In dié verband geld die volgende riglyne:
. R0 – R3 500 (mense ouer as 60, militêre veterane en mense met spesiale behoeftes). Gratis gedienste erf met topstruktuur. Bo en behalwe inkomste moet aansoeker kwalifiseer in terme van ander kriteria neergelê deur die staat.
. R0 – R7 000 (nie deel van spesiale groepe soos bo genoem nie). Gratis gedienste erf. Bo en behalwe inkomste moet aansoeker kwalifiseer in terme van ander kriteria neergelê deur die staat.
. R7 001 – R22 000. Koop huis. Staat stel Finance Linked Individual Subsidy Programme (Flisp) beskikbaar aan eerste kopers as bydrae. Huis kan gekoop word via verband, persoonlike lening of wat genoem word pension-backed loan.
. R1 850 – R22 000. Huur-opsie indien beskikbaar onder die maatskaplike- behuisingsprogram. Die finale toekenningskriteria word bepaal deur die ontwikkelaar van huureenhede wat dit ook sal bestuur.
Mense wat nog nie op die waglys (behuisingsdatabank) geregistreer is nie, word aangeraai om te registreer en om die behuisingskantoor te besoek om behuisingsopsies te bespreek.




