Paarl Post is weens die streng spertyd op ’n Woensdag reeds drukkers toe gestuur voordat die minister van finansies, Enoch Godongwana, met sy langverwagte begrotingsrede begin het.

Later Woensdag het ons almal in spanning gewag om te hoor hoe ons sakke voortaan geraak gaan word. Wat gaan die verhoging in die brandstof­heffing wees – en dít in ’n tyd wat die brandstofprys die hemele in geskiet het?

Met hoeveel gaan ons “sondebelasting” styg? Gaan Jan en Alleman belasting­ver­ligting ontvang? Gaan staatsdiensvak­bonde weer hul sin kry met verhogings van meer as inflasie? Gaan die landbou enigsins uit vanjaar se begroting baat vind? En hoeveel gaan vanjaar begroot word om misdaad te bekamp?

Die vrae is oneindig, maar die grootste een waarop ons NOU ’n antwoord soek, is wat nou gemaak met Eskom?

Sedert die staatsrede twee weke gelede waarin die president op die regruk van Eskom gefokus het, het beurtkrag eintlik net vererger, met nou selfs vlak 8 wat dreig. Ons weet Eskom kan nie oornag reggeruk word nie, maar watter stappe gaan NOU gedoen word om die land van totale ineenstorting te red?

Indien Godongwana helderkleurige planne hieroor skets, gaan dit prakties in die langtermyn uitgevoer kan word, of gaan dit net weer die slagoffer wees van gruwelike staatskaping en dies meer?

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article