Met die aanvang van die onlangse ope dae om die GOP en begroting aan inwoners bekend te maak, was daar min om opgewonde oor te raak.
Eerstens word waardering betuig vir die maklike toegang tot die 2022-’23-begroting op die munisipaliteit se webwerf ten opsigte van die nuwe dienste- en tariefverhogings wat vir die boekjaar sal geld.
Die bestuurskomiteelede van die Drakenstein-gemeenskapsforum, wat dit bygewoon het, het die volgende daaroor opgemerk: Die vorige reëling, waar amptelike vergaderings deur die munisipaliteit met wyksinwoners gehou is, het na ons mening beter gewerk. Gewoonlik was die senior bestuur- en wyksraadslede self teenwoordig om verduidelikings te gee en vrae te beantwoord. Met die nuwe reëling word die tafels met middelvlak-amptenare beman, wat notas van die publiek se navrae neem en dit na hoër gesag verwys. Geen terugvoer hieroor is nog aan die publiek gegee nie.
Soos verlede jaar is ’n boekie weer beskikbaar gestel, wat ’n beknopte oorsig oor die mees belangrike sake gee, waaronder die tariefverhogings vir 2022-’23. Soos verlede jaar behels vanjaar se boekie weer ’n ernstige gebrek, wat neerkom op vensterversiering om die trefkrag van die tariefverhogings te versag. Hoewel die verhoging van eiendomsbelasting as 0% aangedui word, vergoed dit nie naastenby vir die buitensporige verhoging van 18% die vorige jaar nie.
Wat dienste betref, word dit nie gemeld dat BTW van 15% nog bygevoeg moet word nie.
Die tariefverhoging vir water word as 6,9% aangedui. Sodra BTW bygereken word, is dit 7,94%. Insgelyks styg die elektrisiteitsverhoging van 7,71% tot 8,87%, sanitasie van 6,9% tot 7,94% en vullisverwydering van 7,5% tot 8,63%.
Die invloed hiervan op gemiddelde huishoudings sal, volgens ons berekening, van 1 Julie 2022 af neerkom op ’n verhoging van 8,4% vir hierdie vier dienste op residensiële inwoners se rekeninge. Dit beloop feitlik dubbeld die inflasiekoers.
Hoewel in die begrotingsaannames ’n geskatte VPI van 4,8% gebruik word, toon werknemers- en verwante koste ’n styging van 6,86% in die 2022-’23-begroting. Salarisverhogings behoort ernstig herbesin te word teen die agtergrond van baie werknemers wat tydens die Covid-19-pandemie tot hul huise beperk is en nie fisieke werk kon verrig nie. Dieselfde geld raadslede.
Aan die begin van 2015 het die munisipaliteit ’n amptelike taalbeleid goedgekeur, wat daarop neerkom dat alle amptelike kennisgewings en advertensies vir eksterne kommunikasie in die drie amptelike tale van die Wes-Kaap sal verskyn.
In die jongste tyd word hierdie beleid dikwels geïgnoreer en in ’n onlangse skrywe hieroor sê ’n senior amptenaar van die munisipaliteit indien hulle toegee aan die beleid, dit daartoe kan lei dat al elf die amptelike tale gebruik sal moet word, wat prakties gesproke nie moontlik is nie. Hierdie is ’n, verouderde en onaanvaarbare argument en die forum versoek dat die amptelike beleid toegepas word.




