Die Drakenstein-munisipaliteit het alle begraafplase die eerste keer in die geskiedenis gesluit en alle teraardebestellings in die gebied uitgestel as gevolg van swaar reën en oorstromings, sê Gerald Esau, die Drakenstein se uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste.

“Die onlangse kwaai reën en oorstromings het die Drakenstein-munisipaliteit die eerste keer nog genoodsaak om begrafnisse uit te stel totdat die begraafplase weer toeganklik is.

“Openbare veiligheid kom eerste, en die besluit om begrafnisse uit te stel, is geneem om te verseker dat teraardebestellings op ’n menswaardige wyse sal kan plaasvind – met inagneming dat verskeie grafte oorstroom is. ”

Esau het plaaslike ondernemers verlede Woensdag (14 Junie) oor die besluit dat geen begrafnisse van 15 tot 19 Junie by enige begraafplaas sal kan geskied nie, ingelig nadat verskeie dorpe in die Drakenstein ná dae lange swaar reën oorspoel is.

Esau het aan Paarl Post gesê munisipale beamptes en begrafnisondernemers het die begraafplase vandeesweek weer assesseer om te bepaal of dit veilig sal wees om met teraardebestellings voort te gaan.

Neil Marquard van Neil’s Begrafnisdienste sê: “Die omstandighede is buite ons beheer. ’n Mens kan nie teen die weer in opstand kom nie. Dit sit ons skedules in trurat en veroorsaak opeenhoping van begrafnisse. Daar is frustrasie en families wat wag, maar helaas moet ons die munisipaliteit tegemoet kom.

“Hulle sal ons help met ’n oplossing.”

Ryan Dirks van D’vine Funeral Home beaam dit en sê al wat hy kon doen, is om die noodbeleid aan die families te verduidelik.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article